Logo
MMF

Maak my famous se Henrico: ‘Ek’s reg om vir SA te wys wie ek is’

Nuus
31 Augustus 2020
Die Maak My Famous-deelnemers het hierdie week hul gunsteling-liedjies uit ’n fliek of teaterstuk opgevoer – en dit was omtrent ’n 'showstopper'!
MMF Article Image Henrico

Die legendariese sanger en vervaardiger David Kramer was in die ateljee om Emo te help met die beoordeling. David het ook ’n oomblik gehad om vir die TOP-8 te mentor.

Van Reggie B se weergawe van Hard Knock Life uit die fliek Annie tot DfeatSA se supercool danspassies op die maat van Turn Down For What uit Fast & the Furious, het die deelnemers weereens gewys wat in hul steek.

Maar aan die einde van die aand moes ons totsiens sê aan nóg ’n deelnemer. Die boorling van Johannesburg, Henrico Coetzer se Maak My Famous-reis het Saterdagaand tot ’n einde gekom.

“Nou is die tyd om hard te werk en elke geleentheid aan te gryp. Ek is reg vir die industrie en reg om vir Suid-Afrika te wys wie ek is. Ek wil begin werk aan ’n album en dit vroeg in 2021 release,” vertel Henrico.

Henrico sal tot einde September in Kaapstad aanbly en sê: “Ek het nog baie om te leer van Emo en die mentors soos hulle die ander mentor en daarom sal ek elke Saterdag my mede-deelnemers ondersteun en daar wees vir hulle in die ateljee.”

Henrico sê verder hy het gedurende die kompetisie die ware weergawe van homself en wat hy moontlik kan wees in die industrie, ontdek.

“Ek het geleer om te fokus en hard te werk vir my passie. En wow, ek het ooit gedink ek sal die voorreg hê om saam sulke ongelooflike mense in die bedryf te kan werk nie. Ek het soveel geleer van hoe die industrie werk en hoe ek myself kan verbeter en my 120% elke keer op ‘n verhoog te gee,” sê Henrico.

Volgende week veg die oorblywende deelnemers vir ’n plek in die TOP-6 en die tema is liedjies van enige Suid-Afrikaanse kunstenaar.

Moenie vergeet nie, jy kan ook op kykNET se webtuiste stem vir wie jy dink nóg ’n geleentheid moet kry om in die finaal te sing.

Maak my famous is elke Saterdagaand om 20:00 op kykNET, DStv kanaal 144 en kykNET & kie, DStv kanaal 145, te sien.