Lesers van die land se grootste gesinstydskrif, Huisgenoot, ken haar naam. Sy is die vrou wat vir meer as drie dekades vanuit die toetskombuis tot in die veld gewone bestanddele omtower het in watertand-lekkerte. Sy laat jou gló jy kan ook ’n maestro in die kombuis wees.
Sy het reeds altesaam sowat 25 kookboeke die lig laat sien en jy sal haar Huisgenoot Wenresepte in elke kombuis wat sy sout werd is, landwyd raakloop. Eg Afrikaans, eg Suid-Afrikaans – met alles van bokkoms tot biltong tussendeur.
Nou het Carmen ’n nuwe koers aan die Weskus ingeslaan. Dié keer kook sy nie net voor die kameras nie, sy stel ook kykers elke week bekend aan van die land se mees geliefde en gewildste glanspersoonlikhede wat reeds so deel van die huishouding is.
Leer ken ’n ander kant van Carmen wanneer sy jou vanaf Donderdag 2 Januarie 2025 elke week op Lekker & Goed nooi om saam met haar gaste op ’n kosreis te gaan wat jou gaan inspireer.
Haar eerste gas is juis ’n voormalige kollega, Arina du Plessis, wat deesdae die redakteur van Landbou Boerekos is. Sy en Arina het 20 jaar gelede laas saam aan tafel gesit en daar is diep gedeel en wonderlike stories wat weer herleef het. Om nie van die midde-Oosterse lamsboud te praat nie!
Van Carmen se ander gaste sluit onder andere Marciel Hopkins, Candice Bester, Herman Lensing, Johnny Davids en Antoinette Kellerman in.
Om gesonder te eet, is een van Carmen se prioriteite.
“Gesonder eet gaan allermins daaroor om jou te ontneem van die lekkerte van kos. Inteendeel, as mens bietjie minder soet en ryk kook, is dit asof jy fyner proe en die verskillende lae geure ontdek.”
Sy fokus daarop om kos in sy eenvoud te waardeer.
“In Lekker & Goed kook ek ook met ons eie rooigoud: rooibostee. Meer spesifiek Carmién-rooibostee met al sy verskillende natuurlike geurkombinasies om daardeur meer goedheid op vele maniere en ook geur aan kos te verleen. Ek beskou dit deesdae as my speserykas in ’n teekoppie.”
Vir Carmen is Lekker & Goed veel meer as net ’n kookprogram.
“Dit wys die besonderse mooi van die Weskus en saam met verskeie bekende persoonlikhede deel ons lekker onthoue van onvergeetlike ervaringe wat baie keer deur kos aangewakker word.”
Of dit nou in die kombuis of in die veld is, Carmen voel oral tuis. Sy geniet veral die energie wat sy vind wanneer sy in die veld kook.
Wat is Carmen se geheim? Sy sien die mooi en die goed raak in eenvoud . . . en sit dit met liefde op ’n mooi gedekte tafel vir jou voor.
Lekker & Goed word vanaf Donderdag 2 Januarie op kykNET (DStv-kanaal 144) om 17:30 uitgesaai of stroom dit op DStv Stream.