Logo
Kwela 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Kwêla

144TydskrifprogramPG

Kwêla: Bepalings en voorwaardes

Nuus
12 Oktober 2015
Hier is die Kwêla amateur video-kompetisie 2015 se bepalings en voorwaardes.
Hier is die Kwêla amateur video-kompetisie 2015 se bepalings en voorwaardes.

 Inskrywingsfase (Call for entries)
1. Daar kan in twee afdelings vir Kwêla se Amateur video-kompetisie ingeskryf word, naamlik die Funnies-afdeling en die Feite en Geite-afdeling.

2. Elke inskrywing moet deur ’n inskrywingsvorm vergesel word. Die inskrywingsvorms is op ons webwerf by kyknet.co.za beskikbaar. Dit is ook verkrygbaar van Homebrew Films by telefoonnommer (021) 422-3452.

3. In die Feite en Geite-afdeling kan enigiets ingeskryf word - van reisjoernale, nuusgebeure, raar maar waar stories, natuurtonele, ens.

4. In die Funnies-afdeling is ons op soek na video’s wat ’n mens laat lag.

5. Materiaal moet verkieslik digitaal in die beste kwaliteit wat jy dit in verfilm het gelewer word. Jy kan dit op DVD, geheuestokkie of band lewer, of per e-pos stuur.

6. Dit maak nie saak wanneer die video-opname gemaak is nie.

7. ’n Maksimum van drie inskrywings per deelnemer sal in die Feite en Geite-afdeling toegelaat word en ’n maksimum van vyf inskrywings in die Funnies-afdeling.

8. In die Feite en Geite-afdeling moet daar nie meer as 15 minute se videomateriaal ingestuur word nie. Dit kan ongeredigeer wees. Sou die inskrywing tot die finale rondte deurdring, mag die produksiehuis moontlik verdere materiaal aanvra.

9. Indien die deelnemer verkies om ’n geredigeerde weergawe in te stuur, mag dit wel gedoen word, stuur net die oorspronklike materiaal, met die natuurlike klank, sonder musiek of kommentaar saam. Sou die inskrywing tot die televisierondte deurdring, sal die na-produksie (die redigering, teks en klankmeng) egter professioneel deur die produksiehuis gedoen word.

10. In die Funnies-afdeling moet die videomateriaal wat ingestuur word nie meer as 15 minute wees nie. Soos in die Feite en Geite-afdeling kan die videomateriaal geredigeer of ongeredigeer ingestuur word, maar sou die inskrywing die televisierondte haal, sal die produksiehuis die na-produksie hanteer.

11. Die videomateriaal moet saam met die inskrywingsvorm per voorkeurpos of geregistreerde pos gestuur word aan:

Kwêla Amateur Videokompetisie 2015
Postnet Suite 248
Privaatsak X1
Vlaeberg
8018

Dit kan ook per hand by die produksiekantoor afgelewer word by:
Orangestraat 46,
Gardens,
Kaapstad.

E-pos inskrywings kan gestuur word na [email protected]. Inskrywings wat per e-pos gestuur moet vergesel word met ’n inskrywingsvorm. Geen inskrywings daarsonder sal aanvaar word nie.

1. Inskrywings wat op CD, DVD of geheuestafie ontvang word, sal nie teruggepos word nie. Maak dus seker dat u vir uself ’n kopie maak, voordat u dit instuur.

2. Elke inskrywing moet op ’n aparte inskrywingsvorm gedoen word.

3. ’n Beoordelaarspaneel sal die finaliste keur, waarna die kykers per SMS-stemproses die geleentheid gaan kry om die wenners in albei afdelings te kies. Die gehalte van die inskrywings sal die aantal finaliste bepaal.

4. Eerste, tweede en derde plek wenners van die Funnies en Feite en Geite kompetisie van die vorige jaar mag nie weer inskryf nie.

5. Die inskrywings sal beoordeel word op grond van inhoud eerder as tegniese gehalte.

6. Persone wat in die televisiebedryf werksaam is mag nie deelneem nie. Enige direkteur, lid, vennoot, werknemer, agent of konsultant van die promotor en enigiemand wat die promotor beheer of deur die promotor beheer word, sowel as verskaffers van goedere of dienste wat verband hou met die kompetisie, mag nie deelneem nie. Geen werknemers van M-Net, kykNET, Homebrew Films, Kwêla en Live the Journey (of enige van hulle vennote), mag vir die kompetisie inskryf nie.

7. Die sluitingsdatum vir Feite en Geite en Funnies is 31 Augustus 2015.

8. Die finaliste sal in November bekend gemaak word en die publiek sal per SMS vir hulle gunstelinge kan stem.

9. Pryse:

 

Funnies eerste prys:

Botswana:  Die Delta en die Valle

Die Okavango Delta met sy waterkanale en oorvloed wild is ’n gesogte toerisme bestemming.  Hierdie is steeds ’n ongerepte Afrika met nog min invloed van buite.  Luukse lodges voorsien egter gemaklike verblyf vanwaar die omgewing verken kan word.  Die wit watergordyn van die Victoria Waterval is een van Afrika se ikoniese besoekpunte.  In die volksmond staan dit bekend as “Mosi-oa-Tunya" – die rook wat donder. Dit is ’n skouspelagtige gesig om te sien.

Hierdie prys is ’n 6-nag toer vir twee persone, ontbyt en aandete ingesluit, asook:

~  2 vlugkaartjies vanaf Johannesburg na Maun

~  2 vlugkaartjies vanaf Victoria Falls na Johannesburg

~  2 nagte in die Okavango Delta DBB

~  2 nagte Chobe DBB

~  2 nagte by Vic Falls aan die Zambië kant B&B

~  binnelandse vlugte in Botswana


Funnies tweede prys:

Faces of the Namib:

Die Namib-woestyn is die wêreld se oudste woestyn.  Dit is ’n wonderwêreld wat tot onlangs nie toeganklik was vir die publiek nie. ’n Toer deur die woestyn is lewensverrykend en laat ’n ewige indruk.  Dit sluit ’n besoek in aan die Kuiseb Canyon, ou diamant myndorpies, Conceptionbaai, die spookagtige wrak van die Eduard Bohlen en Sandwich Harbour.  Verder word die lewe in die woestyn ook van nader bekyk; plante, goggatjies, wild en hoe die Topnaars ’n lewe vir hulself maak.

Hierdie prys is ’n 6-nag 4 x 4 kamp ervaring vir twee persone en sluit die volgende in:

~  Retoervlug vanaf Kaapstad/Johannesburg na Walvisbaai

~  Voertuig en bestuurder vir toer deur die woestyn

~  3-etes per dag terwyl in die woestyn

~  1-nag se akkommodasie pre en post die toer B&B

 

Funnies derde prys:

Selfry Namibië met Gondwana – speserykleurige duine

Namibië is ’n uitgestrekte land met prentjiemooi natuurlike kontraste.  In Walvisbaai spoel die Atlantiese Oseaan teen die duine van die Namibwoestyn.  Sossusvlei is een van die mees besoekte plekke in Namibië;  ’n spierwit pan omring deur hoë duine.  Die rooi duine van die Kalahari vind mens nêrens anders in die wêreld nie en die sonsondergange is die een mooier as die ander.

Hierdie prys is ’n 6-nag selfry toer vir twee persone in Namibië

~  2 vlugkaartjies vanaf Kaapstad/Johannesburg na Walvisbaai

~  2 nagte in Swakopmund (The Delight) B&B

~  2 nagte by Sossusvlei (Namib Desert Lodge) B&B

~  1 nag in die Kalahari  (Kalahari Anib) B&B

~  1 nag in Swakopmund  (The Delight) B&B

~  motor huur vir 7-dae


Feite en Geite eerste prys:


Ethiopië – land van koffie, kerke, kulture en kruise

Ethiopië het ’n ou-ou geskiedenis wat terug dateer na die tyd van die Ou Testament.  Die land was nooit gekolonialiseer nie daarom is die kultuur vas gesement in ou gebruike en tradisies.  Die landskap is poskaart mooi met hoë berge, blou mere en diep valleie.  Die Blounyl-waterval is ’n asemrowende gesig, die kastele van Gondar neem jou terug na die verhale van Koning Arthur en Camelot, die fabels en mites oor die Koning van Skeba klink so geloofwaardig, maar dit is die kerke van Lalibela wat jou stom laat.  Elf kerke uit rots gebeitel, elke stukkie met die hand iets wat jy self moet aanskou.

Hierdie prys is twee plekke op ’n 10-dag groeptoer na Ethiopië

~  2 vlugkaartjies vanaf Johannesburg na Addis Ababa + binnelandse vlugte in Ethiopië

~  akkommodasie en etes soos die toerprogram bepaal.

~  toegangfooie

~  visumkoste


Feite en Geite tweede prys:


Kunenemond:  Swakopmund tot by die monding van die Kunenerivier

Die Skedelkus is berug vir die talle skeepswrakke langs die onherbergsame kuslyn. Verhale van groot tragedie, maar ook van die wonderbaarlikste en heldhaftigste reddingspogings word vertel. Dit dra by tot ’n fassinerende reis langs hierdie kus tot by die Kuneneriver-monding waar Namibië en Angola ontmoet. Die magtige Kunene se smaraggroen water kerf ’n diep kloof deur massiewe swart rotsformasies en majestieuse geel sandduine op sy pad na die Atlantiese Oseaan. Hierdie gebied was voorheen gesluit vir die algemene publiek, maar is onlangs oopgemaak om net 'n handjievol besoekers per jaar toe te laat om sy dorre skoonheid en ryk geskiedenis te ervaar. Die terugtog deur die Hartmann-vallei met sy uitgestrekte grasvelde, geheimsinnige feetjie sirkels en oorvloed van wild bied ’n unieke ervaring van sy eie.

Hierdie prys is ’n 7-dag 4 x 4 kamp ervaring vir twee persone en sluit die volgende in:

~  Retoervlug vanaf Kaapstad/Johannesburg na Walvisbaai

~  Voertuig en bestuurder vir toer deur die woestyn

~  3-etes per dag terwyl in die woestyn

~  1 nag se akkommodasie pre en post die toer B&B

 

Feite en Geite derde prys:

Selfry Namibië met Taleni – die duine en die wild

Namibië is ’n land van groot oop ruimtes, baie sonskyn, ’n rykdom van wild, ryk geologiese skatte en ’n verskeidenheid van kulturele erfenis. Nêrens in die wêreld vind jy ’n hemelruim so helder soos in Namibië nie. Geniet die Duitse kultuur van Swakopmund met sy pragtige argitektuur en avontuur aktiwiteite.  Ry na Etosha, een van Afrika se mees bekende wildparke; rondom die groot wit pan versamel trope diere wat wildbesigtiging ’n heerlike avontuur maak.

Hierdie prys is ’n 6-nag selfry toer vir twee persone in Namibië

~  2 vlugkaartjies vanaf Kaapstad/Johannesburg na Walvisbaai

~  2 nagte in Swakopmund (Hotel Zum Keizer) B&B

~  2 nagte by Sossusvlei (Sossusvlei Lodge) B&B

~  2 nagte naby Etosha  (Etosha Village) B&B

~  motor huur vir 7-dae



SMS kykerspryse
Feite en Geite SMS wenners: Laeveld Safari


Nkambeni Tented Camp is geleë in die Kruger Nasionale Park en het regte vir alle vorme van aktiwiteite binne die park. Die terrein is geleë naby die ingang na die Numbi-hek en slegs sowat 50 km van Nelspruit (Mbombela) die hoofstad van Mpumalanga.

Die Nkambeni Safari Camp is verbind tot die bewaring van ongerepte wildernisgebiede. Die suites is ontwerp en gebou om die minimum impak op natuurlike habitat te waarborg. Om dié rede is die suites gebou op hout stelte.

Die verblyf by Nkambeni Safari Camp bestaan uit 150 pragtige luukse tent suites.
• Twee ekstra lengte beddens
• Twee uitvou stapelbeddens vir die kinders
• Badkamer met ’n binne en buite stort
• Lugverkoeling
• Self-help koffie-stasie in elke kamer

Hierdie prys is 5-nagte se akkommodasie vir ’n gesin van vier.


Funnies SMS wenners: Kuier by die see – Cape St Francis Resort

Geniet die heerlike strande en uitstekende watersport fasiliteite aan die oewers van die  Krommerivier by St Francis Bay.  Cape St Francis met sy historiese vuurtoring is ’n rustige eko-bestemming en omring deur natuurreservate en die warm Indiese Oseaan.

Cape St Francis Resort bied selfsorg akkommodasie.  Alle kamers, huise en villa’s hetvoldoendefasiliteitevir selfsorg.  Dit is die idealefamilie vakansiebestemming.

Hierdie prys is 5-nagte se akkommodasie vir ’n gesin van vier.

1. Die pryse kan nie geruil word vir kontant of enige ander tipe toer nie.

2. Die pryse kan nie vir oorgedra word na iemand anders as die oorspronklike wenner nie.

3. Pryse kan slegs geneem word in datumgleuwe volgens voorkeur van die verskaffers van die prys soos deur Live the Journey gestipuleer per paket.

4. Pryse na Ethiopië, Botswana en Namibië – die wenner moet in besit wees van geldige reisdokumente.  Indien die wenner nie reisdokumente het nie, sal die verkryging daarvan vir die wenner se eie rekening en tyd wees.

5. Die bogenomende bestemmings is nie binne bereik van stedelike areas nie. Kykers moet asseblief daarvan kennis dra dat bestaande mediese toestande in ag geneem sal word. Die reise is nie geskik vir mense met fisiese gestremdhede nie, aangesien die terrein nie rolstoel vriendelik is nie. Deelnemers sal verwag word om mediese dekking te hê om in ag geneem te word vir die pryse.

6. Live the Journey kan nie verantwoordelik gehou word vir enige verliese (hetsy weens diefstal of persoonlike nalatigheid) wat tydens ’n toer mag plaasvind nie.

7. Die na-produksie van video’s word volgens die produksiehuis se diskresie gedoen en die stemuitslag van die kompetisie is finaal. Daar sal geen briefwisseling daaroor gevoer word nie.

8. Deelnemers jonger as 18 jaar moet toestemming by hulle ouers of voog verkry voordat hulle kan inskryf.

9. M-Net behou homself die reg voor om geredigeerde insetsels van die videomateriaal op M-Net en op sy Afrikaanse kanale uit te saai; asook die reg om hierdie materiaal eksklusief op enige wyse kommersieel te eksploiteer.



KOMPETISIEFASE
1. Gedurende die kompetisiefase kry kykers die geleentheid om vir hulle gunsteling video’s te stem deur die naam van ’n sleutelwoord na 33157 te SMS. Dié nommer is ook toeganklik vir Namibiërs.

2. ’n SMS kos R1.50.

3. Gedurende die kompetisiefase word slegs 30 SMS’e per unieke selfoonnommer toegelaat.

4. Gratis SMS’e geld nie en foutiewe SMS’e sal ook verreken word.

5. Kykers wat per SMS stem kom ook in aanmerking vir pryse.

6. Kykerspryse: Sien punt 20 onder pryse

7. Die wenners van die SMS-kykerspryse sal deur middel van ’n elektroniese prystrekking geïdentifiseer word en telefonies in kennis gestel word. Die wenners se name sal ook op Kwêla se Facebookblad gepubliseer word en die wenners van die finaal sal in die program aangekondig word.

8. Ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming moet alle wenners hul persoonlike inligting en identifikasie-dokumente aan die organiseerders verskaf om die pryse te kan opeis.

9. Indien die SMS-kompetisiewenners nie binne vier telefoonoproepe en een SMS binne 24 uur bepaal kan word nie, of die wenners nie die prys kan opeis voor of op die datums soos uiteengesit in punt 20 van die inskrywingsfase nie, word die prys verbeur en behou die organiseerders die reg voor om ’n nuwe wenner onder dieselfde voorwaardes te trek.

10. ’n Onafhanklike ouditeursfirma sal die resultate van die stemproses oorsien. Die onafhanklike ouditeursfirma se beslissing is finaal.

11. Deelnemers wie se inskrywings deurdring na die TV-ronde sal per epos in kennis gestel word.  Die persone wat nie die TV-ronde gehaal het nie sal nie in kennis gestel word nie.

12. Die deelnemers wat tot die finale ronde deurdring en hulle pryse in die ateljee ontvang, mag nie op enige ander media, insluitende sosiale medianetwerke, soos Facebook en Twitter daaroor gesels, voordat dit nie op Kwêla bekend gemaak is nie.

13. Geen korrespondensie sal oor die uitslag/beslissings van die beoordelaars gevoer word nie.

14. Deelnemers neem op eie risiko deel en Kwêla, Homebrew Films, kykNET en M-Net asook die ander derdeparty verskaffers aanvaar geen aanspreeklikheid vir enige verlies, beskadiging of skade wat direk of indirek met die deelname aan die kompetisie verband hou nie.

15. Indien wetgewing vereis dat die kompetisie gekanselleer word, is Kwêla, Homebrew Films, kykNET, M-Net en die ander derdeparty-verskaffers nie verantwoordelik vir die pryse of koste van SMS-inskrywings nie.

16. Wenners mag versoek word om hulle pryse op Kwêla in ontvangs te neem, maar hulle kan die versoek toestaan of afwys.

17. Deur vir die kompetisie in te skryf, erken deelnemers dat hulle al die bepalings & voorwaardes aanvaar.

18. Vir navrae skakel Kwêla by (021)-422 3452 gedurende kantoorure.

19. Die bepalings en voorwaardes word gepubliseer op kykNET se webwerf. Vir meer inligting besoek www.kyknet.co.za of  facebook.com/kyknetkwela