Logo
Kwela 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Kwêla

144TydskrifprogramPG

Hannes: ‘Ek sal meer as my bes doen’

Nuus
21 April 2015
Ons het eksklusief met Hannes van Wyk, die nuwe aanbieder van Kwêla, gesels.
Hannes Foto
“Ek is die gewone kind van Hennie en Mariet van Wyk van Aliwal-Noord – sonder pretensie en aanstellerigheid, want daarvoor is daar geen rede nie.” Só beskryf Hannes van Wyk, die nuwe Kwêla-aanbieder, homself.

Hannes het al van kleintyd af geweet hy is bestem vir die vermaaklikheidsbedryf, en op die ouderdom van agt jaar was hy reeds deel van ’n rondreisende toneelgeselskap.

Hannes het drama aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. “Ek het gelukkig wonderlike ouers wat my absoluut ondersteun het in my besluit om drama te gaan swot. As ’n kind van Aliwal-Noord was dit nogal ’n ding,” sê Hannes.

Na afloop van sy studies het Sukovs (die Streekraad vir die Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat) hom ’n pos aangebied. Hy was een van twee studente landwyd wat ’n pos aangebied is. Híér kon hy by van die bedryf se bestes, soos Jannie Gildenhuys, Wilna Snyman, Marga van Rooy, Louw Verwey, Sandra Duncan en Gerben Kamper, leer.

As hy ’n rol moet uitsonder, sê Hannes die verhoogstuk Voor ek Vergeet, waarin hy onlangs teenoor Amanda Strydom te sien was, is ’n uitstaan-stuk. “Dan ook die eenmanstuk, Die jaar wat my ma begin sing het, wat ek jare gelede gedoen het, asook Griet skryf ’n sprokie, wat ek en Susan Coetzer gedoen het.”

Wat televisierolle betref was Torings, sy eerste televisierol, ’n hoogtepunt. Sy rol as Krynauw du Buisson in Egoli, ’n rol wat hy vir 10 jaar lank vertolk het, en sy tyd as aanbieder van Bravo!, is ook hoogtepunte in sy loopbaan.

Hannes meen alle werk in die vermaaklikheidsbedryf is ewe uitdagend. “’n Mens is net so goed soos die laaste rol wat jy vertolk – of die laaste onderhoud wat jy gevoer het,” sê Hannes.

As Bravo!-aanbieder het Hannes vinnig in kykers se harte gekruip. Hannes skryf sy sukses as aanbieder toe aan harde werk en navorsing. “Dis ook belangrik om jouself te bly en om te leer hoe om te lúíster,” sê hy. Die onderhoud gaan nie oor jou nie, maar oor die persoon met wie jy praat.”

Hannes sê hy hou nie van die woord ‘onderhoud’ nie. Hy dink eerder daaraan as ’n geselsie, of ’n kuiertjie.

Oor sy nuwe rol as Kwêla-aanbieder sê hy: “Ek is dankbaar teenoor Karen Meiring en kykNET, teenoor wie ek uiters lojaal is, omdat hulle al so goed vir my was in my loopbaan. Ook die produksiehuis Homebrew Films, waarvoor ek al baie werk gedoen het. Dit is vir my ’n ontsaglike groot kompliment dat hulle op my besluit het, omdat daar sulke goeie aanbieders in ons land is. Ek sal meer as my bes doen.”

Hy het nie ’n oomblik oor die aanbod gedink nie. “Ek het nie eers twee keer gedink nie en sommer dadelik ja gesê.”

Uit die aard van die saak kan Hannes nie die aanbieder van Kwêla én Bravo! wees nie. Hy gaan eksklusief as aanbieder van Kwêla optree, al gaan kykers hom ’n ruk lank nog op die kassie as Bravo!-aanbieder sien.

Hannes het ’n spesiale boodskap vir Kwêla-kykers: “Wees asseblief geduldig met my en moenie my en Coenie met mekaar vergelyk nie. Ek beskou hom as ’n briljante aanbieder, maar ons is twee verskillende aanbieders en twee verskillende mense. Elkeen het mos maar sy eie styl van aanbieding. Ek is ook een van daardie aanbieders en akteurs wat die kyker heel eerste stel en hoewel ’n mens nooit almal kan gelukkig hou nie, glo en hoop ek dat ek met harde werk, voorbereiding, ’n goeie sin vir humor en my unieke manier van onderhoude voer, die knoop sal deurhaak.”

Coenie sal op 20 Mei vir oulaas as aanbieder van Kwêla optree. Hannes sal vanaf 27 Mei die Kwêla-bank as nuwe aanbieder inneem.