Logo
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Dag 12: Trane in oorvloed op Vadersdag - Kwarantyn

Nuus
21 Junie 2020
Tydens inperking was Vadersdag 2020 beslis baie anders vir families reg oor die land. By #SpanScheepers en #SpanLeRoux het baie spesiale video-oproepe emosies losgemaak.
GettyImages 131253514

Dit neem 'n man soos jou pa om die trane te laat stort, en vandag was vol emosies in beide die #Kwarantyn-huise. Elke spanlid wie se pa nie in die onderskeie huise is nie, kon met familie praat te danke aan video-oproepe wat deurgesit is na #SpanScheepers en #SpanleRoux.

SOPNAT WANGE BY DIE SCHEEPERS

Dit het begin toe Pamela, Avril en Austin 'n baie, baie spesiale oproep ontvang het. Avril se man en Pamela se man het besluit om saam middagete te geniet voor hulle bel om te hoor hoe dit met hul gades gaan.

Maar dis veral Avril en Pamela wat die afstand kon voel, soos die trane gerol het aan die begin van die oproep. Avril se man, en Austin se pa het ook in die oproep erken dat hy ook so bietjie emosioneel is oor hy sy seun en vrou mis. Die hoof rede hoekom Avril se man en Austin se pa nie in die huis is nie, is die feit dat hulle ‘n jonger sib het, wat ongelukkig nie kan deelneem nie. En natuurlik dat Pa-Scheepers die pot aan die kook moet hou.

Jade en Kel-cee kon ook hul hele gesin sien. Hulle pa, die res van hul gesin, en hul eie hond by die huis, het ingeloer. Die hele #SpanScheepers was bly vir die sussies. Hulle het oor-tot-oor geglimlag, en jy kon net tande sien soos hulle deelneem aan die gesprek.

Caryn het ook haar oproep van die huis af ontvang, en was veral emosioneel toe haar gesin haar moed inpraat. Hul raad aan haar was, “Be loud, and be proud!”. Dis baie belangrik soos die #Kwarantyn-tyd langer word, en die uitdagings nie ophou nie.

LEKKER LE ROUX LIEFDE

Vir #SpanLeRoux was dit nie baie anders nie. Toe Manie vanoggend onverwags siek word, was 'n oproep van Jana en Braam se middelkind presies wat hulle nodig gehad het. Braam kon nie sy emosies inhou toe sy ander seun vir hom sê: “Ek is baie lief vir pa, en ons het terugvoer gekry dat Manie terugkom.”

Braam het ook van sy familie baie liefde in die oggend ontvang.

Die soms onverstoorbare Heinrich het ook vandag sy hart op sy mou gedra toe sy eie pa bel. Hy het selfs sy dankbaarheid oorgedra dat sy pa hom grootgemaak het om te wees wie hy is.

Adriaan het ook sy spesiale oproep gekry, en was ewe in sy noppies dat hy met sy pa kon praat. Dit was 'n bewys dat selfs gedurende inperking, kan almal nog spesiale tye met hul naastes geniet.

Gesels saam op FacebookInstagram en Twitter met die hutsmerke, #Kwarantyn, #SpanLeRoux en #SpanScheepers.

Kwarantyn sal vanaf Woensdag 10 Junie om 21:00 elke dag en heeldag op kykNET se nuutste opwipkanaal, DStv-kanaal 149, uitgesaai word.

Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ’n 24 minuut-lange hoogtepunteprogram (behalwe Woensdae is dit ’n 48 minuut-lange program om 20:00) op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.