Logo
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Dag 11: Loer agter die skerms – Kwarantyn

Nuus
20 Junie 2020
Dit verg bykans 100 mense om #SpanScheepers en #SpanLeRoux op jou kassie te hou.
IMG 3072

Naweke is stadiger in meeste huishoudings, en tydens inperking terwyl meeste mense ook nog van die huis af werk, smelt al die dae in een, en meer dae voel soos Saterdag. 

Maar by die #Kwarantyn-huise word daar ook op Saterdae baie sweet van wenkbroue af gevee onder die talle mense wat seker maak dat #SpanLeRoux en #SpanScheepers jou kan vermaak van sonop tot sononder.

Om elke sekond vas te vang vir uitsending is daar 56 kameras verdeel tussen die twee huise. Die kameras vang elke liewe ding wat in die huis gebeur op, wat ‘n produksiespan van amper 100 mense vereis.

Die beheerkamer is ook 'n warboel van aksie, en nege mense hou elke sekond dop, versprei oor drie skofte per dag. Die beheerkamer het altesaam 20 monitors waarop #SpanScheepers en #SpanLeRoux se doene en late afspeel.

As dit nie genoeg is nie, skep #SpanScheepers en #SpanLeRoux ook hul eie inhoud op Twitter en Instagram, wat beteken selfs op sosiale media is daar ekstra inhoud as jy nie genoeg kan kry van #Kwarantyn nie.

Een ander vraag wat baie opduik is: "Waar is Ferdie?"

Die Opsigter, die baas, die president en die ma met ‘n plakkie van Kwarantyn is nie eers naby aan die stel nie - as jy dit nog nie geweet het nie.

Hy sit in die mooie Wes-Kaap, en skiet daar sy videos wat uitgaan aan #SpanScheepers en #SpanLeRoux vir elke uitdaging. Dit was belangrik dat tegnologie gebruik word om seker te maak al die deelnemers, en die aanbieder bly veilig – en by die huis – tydens inperking. Maar moenie dink hy weet nie presies wat aangaan nie.

Die opsigter het kameras oral, en weet presies wat elke sekond afspeel, selfs al is #SpanScheepers en #SpanLeRoux in Johannesburg.

Voor die spanne die eerste keer die huise betree het, kon Ferdie ook tyd in Johannesburg spandeer – so hy weet selfs waar is al die wegkruipplekkies in albei huise.

Maar voor die kameras selfs begin rol het, het dit altesaam ses weke geneem om albei huise mooi te maak, en gereed te kry vir die deelnemers.

Al die tyd was beslis die moeite werd, want nou kan jy enige tyd loer wat in iemand anders se huis aangaan, rustig (en veilig) op jou bank.

Gesels saam op FacebookInstagram en Twitter met die hutsmerke, #Kwarantyn, #SpanLeRoux en #SpanScheepers.
Kwarantyn sal vanaf Woensdag 10 Junie om 21:00 elke dag en heeldag op kykNET se nuutste opwipkanaal, DStv-kanaal 149, uitgesaai word.

Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ’n 24 minuut-lange hoogtepunteprogram (behalwe Woensdae is dit ’n 48 minuut-lange program om 20:00) op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.