Logo
web uni tv guide

In Gesprek

144AktueelPG13

Drie ekstra aande van "In gesprek" gaan fokus op die verkiesing

Nuus
03 Mei 2024
"In gesprek" word op 28, 29 en 30 Mei om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
In gesprek verkiesgings 2024

Op 29 Mei gaan Suid-Afrikaanse kiesers na die stembus vir die land se sewende demokratiese verkiesing. In gesprek gaan die vinger op die pols hê en vir drie agtereenvolgende dae – die dag voor die verkiesing, verkiesingsdag en die dag ná die verkiesing – om 21:00 op kykNET uitsaai om kykers op hoogte van sake te hou. Lourensa Eckard is die aanbieder, en van die ateljeegaste sluit in Dawie Boonzaaier (Rapport), Pieter du Toit (News24), dr. Piet Croucamp (NWU), prof. Theo Venter (UJ) en Ebrahim Fakir (Auwal Sosio-ekonomiese Navorsingsinstituut).

Dinsdag 28 Mei gaan politieke kenners in die ateljee die verkiesing bespreek, en ’n span sal by die OVK (Onafhanklike Verkiesingskommissie) se uitslagsentrum wees om daar uit te vind hoe gereed hulle vir die verkiesing is.

Woensdag 29 Mei sal daar spanne in die veld in verskeie provinsies wees waar kiesers hulle mening kan gee. Gaste in die ateljee sal hulle insette lewer oor hoe die verkiesing afloop, en daar sal weer ’n span by die OVK se uitslagsentrum met die jongste nuus wees.

Donderdag 30 Mei sal gaste in die ateljee die uitslae ontleed, en daar sal weer na die OVK se uitslagsentrum oorgeskakel word.

Lourensa, wat kan kykers verwag? 

Kykers kan indiepte-ontleding van die grootste gebeure van die dag verwag deur van die land se voorste kenners. Die In gesprek-span sal berig vanuit Gauteng, die Wes-Kaap, die Vrystaat en KwaZulu-Natal om kykers op hoogte te hou van enige politieke opskuddings voor, op en ná stemdag. Die beste van alles – ons doen dit in Afrikaans.

Wat maak stemdag vanjaar anders as vorige jare? 

Die onvoorspelbaarheid. Meningspeilings verskil byna elke dag, en ons gaan nie regtig weet voordat Suid-Afrika op 29 Mei gestem het nie. Nog iets wat vanjaar anders maak, is die reuse-aantal politieke partye op die stembrief. Dis die meeste nog.

Wat is jou eerste herinnering aan stemdag? 

Ek het in 2009 vir die eerste keer gestem, en dit was so opwindend. Daardie jaar het ek ook die nasionale uitslagsentrum van die OVK as joernalistiek-student besoek. Die atmosfeer het beslis iets in my aangewakker wat my aangespoor het om ’n politieke joernalis te word. Sedertdien het ek nog op elke stemdag verslag gedoen, en dit is net die mees opwindende tyd, want dit bly ’n voorreg om in ’n demokratiese land te kan woon.

As jy die minister van enige portefeulje kan wees, wat sal dit wees en hoekom? 

Beslis nie finansies nie! Ek sal graag minister van sport wil wees, want dan kan ek al die groot sportbyeenkomste dwarsoor die wêreld bywoon.

Wat is jou eie persoonlike hoop vir die verkiesing vanjaar? 

Vir ’n vreedsame en regverdige verkiesing.

Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale, stem saam dat vanjaar se verkiesings van die belangrikste nog in ons demokrasie is. “Die uitslae van die 2024-verkiesings sal bepaal watter partye in ’n posisie gaan wees om ná 29 Mei in die nege provinsies en nasionaal regerings te vorm. Vir die eerste keer sedert 1994 lyk dit of koalisies in meer as net dorpe en stede aan bewind kan kom. Dié keer wink samewerkingsooreenkomste in minstens twee groot provinsies. Die moontlikheid bestaan ook dat geen enkele party op nasionale vlak bo 50% sal presteer nie.

kykNET wil seker maak ons kykers kry die beste analise in die aanloop tot die verkiesing, op stemdag self, en wanneer die eerste uitslae land. Dit is waarom In gesprek met Lourensa Eckard vir die eerste keer op vier agtereenvolgende aande op die lug sal wees in verkiesingsweek: Maandag 20:30 vir die gebruiklike uur, Dinsdagaand voor en Woensdagaand op stemdag om 21:00 vir ’n halfuur, en Donderdagaand 21:00 vir ’n stewige uur om na uitslae te kyk en die eerste tekens van koalisiepraatjies te probeer raakvat.”

·      In gesprek word op 28, 29 en 30 Mei om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai