Logo
Showpages Hokaai My Meisie 2Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Hokaai, My Meisie!

144ReisprogramPG13 L

Shari sê nooit hokaai vir avontuur – Hokaai, my meisie!

Nuus
23 April 2021
Hokaai, my meisie, kykNET se nuwe reisprogram, poog om vir Suid-Afrikaners te wys wat daar alles is om te ontdek as ons net van die hoofroetes afdwaal.
BB

Ons gesels met aanbieder, Shari Kennedy.

Vertel bietjie meer van jouself. Waar kom jy vandaan, wat het jy ná skool gedoen, hoe lyk jou dag tot dag.
Ek is ‘n Upington-meisie. Ná skool is ek na die liggies toe – so tussen Stellenbosch en die Kaap. Van kleinsaf was ek lief vir avontuur en ek het dit altyd gaan soek. Ek moet iets doen, ek kan nie net sit nie. Ek was nog altyd lief vir sport en ry vandag steeds bergfiets. Die dag toe ek by Bloukrans afgespring het met ‘n kamera aan my hand vasgebind, was dit een van die malste dinge wat ek gedoen het. Maar dit was en is steeds tipies ek.

Ek is ma van drie en ek is hulle persoonlike persoonlike assistent! Hulle hou my lekker besig, maar ek geniet hulle verskriklik.

Waar het julle aan die naam van die program gekom?
Danielle McDonald, die vervaardiger van die program en haar man, Konrad Raubenheimer, en my sussie Kim het by ons in Witrivier by kom kuier. (Shari se man, Japie van Niekerk, is die eienaar van Cheetah Plains in Sabi Sands.) Hulle was besig om al die erfenisgebiede in Suid-Afrika te verfilm. Ek het ‘n klein partytjie gehou en die aand het sy gesê sy moet met my praat. Die volgende oggend sit ons met ‘n koppie koffie en sy vra of ek nog nooit my eie TV-program gehad nie? Ek het gesê nee, en sy het gesê sy wil baie graag iets saam met my doen. Mens dink mos mense praat net, maar twee weke later het sy laat weet die reeks gaan gebeur.

Sy het gesê ons gaan ‘n program maak wat diverse mense bymekaar gaan bring en vir kykers ons unieke land gaan wys. Dit was ook my visie vir die reeks. Sy het gesê sy het reeds die naam vir die program en dit is woorde wat ek gereeld gebruik – hokaai, soos wanneer ek vir my kinders sê hulle moet stadig – en my meisie. Dit is hoe Hokaai, my meisie sy titel gekry het.

Wat maak Suid-Afrika uniek?
Ons is die wêreld in een.  Dit bied vir ons die wynlande aan die een kant en twintig minute vandaar kry jy hierdie kosmopolitaanse stad, Kaapstad. Dan vlieg jy twee ure en jy kan in die bos wees of die Krugerwildtuin waar jy die groot vyf kan beleef. Dan klim jy weer op ‘n vliegtuig en binne ‘n uur en ‘n half is jy in KwaZulu-Natal met sy tropiese klimaat en lieflike plantegroei. Die plekke lê op ons voorstoep. Dan praat ek nie eens van die wonderlike kosse en wonderlike wyne wat ons bied nie. En dit is alles nog bekostigbaar, veral vir toeriste. Ek dink ons land is vir hulle ‘n paradys.

Is die plekke wat julle in die reeks besoek toeganklik vir alle Suid-Afrikaners?
Die doel van die program is juis om vir kykers unieke plekke te wys wat hulle kan besoek. Dit het selfs my oë oopgemaak. Ek sal in vir vervolg beslis nie net op die N1 en die N2 bly nie. Ek sal afdraaipadjies neem. ‘n Dorpie soos Swellendam kan byvoorbeeld baie vinnige misgery word, maar jy weet nie watter verskriklike mooi daar is nie. Jy kan jou bergfiets pak, vir twee aande gaan oorbly en al daardie ongelooflike roetes ry. Jy kan by die wonderlikste restaurante gaan eet en die mooi argitektuur bewonder. Daar is soveel sulke dorpies in die land wat enigeen kan besoek.

Wat was vir jou die grootste uitdagings?
Die grootste uitdaging was die ure wat ons gewerk het. Daar was tye wat ons drieuur in die oggend opgestaan het en dan moet jy nog jou hare en grimering doen, ‘n uur en half verder ry en eers elfuur die aand weer in die bed kom. Om grondpad te ry in 35 grade en vier of vyf  pap bande te kry, was beslis ook ‘n uitdaging, maar ten minste kan ek nou sê dat ek weet hoe om ‘n band om te ruil.

Ek het al die uitdagings oorkom en kan ná die opnames steeds sesuur opgestaan omdat ek geleer het om met min slaap oor die weg te kom. Ek het baie geleer.

Wat was vir jou persoonlike hoogtepunte in die maak van die program?
Die renosters in die eerste program. Ek weet nie of kykers besef het hoeveel adrenalien daar betrokke was nie. Maar ook die verskeidenheid mense wat ek ontmoet het. Van tannie Poppie wat haar roosterkoeke langs die N1 maak en dit met ‘n glimlag doen, iemand soos Amy Kleinhans, die voormalige Mej. SA, wat ek vir die eerste keer ontmoet het of Katot Meyer wat alles in sy vermoë doen om die natuur te beskerm. So ja, daar was verskeie hoogtepunte, maar die dag met die renosters staan beslis uit.

Wat hoop jy kry kykers uit die program?
Ek wil hê mense moet besef in watter unieke land ons bly. Hierdie land het soveel om te bied. Ons sit met soveel interessante mense om ons.  Ek wil hê mense moet die reeks kyk en ek hoop dit maak ‘n stukkie avontuur in hulle wakker. Covid het mense moedeloos gemaak, maar hulle moet net die pad vat of oor die volgende berg ry om die mooi van ons land en sy mense te ontdek.

Skakel Saterdae om 18:30 in vir Hokaai, my meisie! en gesels saam op sosiale media deur die hutsmerk #HokaaiMyMeisie te gebruik.