Logo
Slim Homepage 1600x160 (12)
web uni tv guide

G.I.L

144Komedie13 L

Kielie jou lagspiere by Grobbies *Internasionale Lughawe (G.I.L.)

Nuus
08 Maart 2021
Sal ’n optimistiese Go-Getter dit regkry om ’n lughawe se volle potensiaal te ontgin, waar die sonbesies in die doringbome die meeste geesdrif en uithouvermoë het?
GIL 1600x640 Laumch Billboard

Ontmoet vir Barry Wiese, ’n ywerige en entoesiastiese raakvatter wat dík opgewonde is wanneer hy ’n pos kry om ’n *internasionale lughawe te bestuur.

Sy entoesiasme vat ’n duik as hy besef dis minder internasionaal en meer munisipaal en aan die gatkant van Suid-Afrika. Hy is opgeskeep met ’n personeelspan wie se horisonne nie veel verder as hul skaduwees strek nie, maar hy is doelgerig om dit te laat werk!

Barry (Bennie Fourie) en sy unieke span is vanaf April op die kassie te sien in kykNET se nuwe mokumentêre reeks G.I.L. (Grobbies *Internasionale Lughawe).

Dit was nog altyd Barry se droom om ’n suksesvolle besigheidsman soos Richard Branson te wees. Barry se ambisie strek nie so ver dat hy ’n CEO van ’n groot korporatiewe instelling wil wees nie. ’n Algemene bestuurder van ’n klein lughawe slaplinks van niks en om die draai van regs is oor as genoeg vir hom.

Op sy eerste dag ontmoet hy sy nuwe span. Rietjie du Toit (Ashley de Lange), informasie beampte en all-round fixer, vertrek oor ’n paar maande om in die Ooste Engels te gaan gee. Rietjie kan op haar voete dink en los sommer vinnig ’n probleem op.

Sy was op matriek in ’n verhouding met Clive Grobler (Hendrik Cronje) wat die bestuurder by die lughawe se lodge is. Sy pa is ook die eienaar van die lughawe en daar gaan nie ’n dag verby waar hy nie vir mense herinner nie.

Prof (Gershwin Mias) en Tips (Ruan Wessels) is die bagasiehanteerders van G.I.L. Hulle werk saam al hou hulle nie regtig van werk wanneer hulle saam is nie. Hulle vermaak mekaar en kom gereeld in die moeilikheid. Die res van die ‘grootmense’ wat by die lughawe werk is baie ernstig oor die lewe, Prof en Tips kies om nog vir ’n rukkie die stoutgatte te wees.

Princess Mohandi (Vele Manenje) is die baas van sekuriteit. Sy neem haar werk baie ernstig op en laat nie toe dat enige man vir haar sê wat om te doen nie.

Letricia Duvenhage (Michelle Burgers) en Kreef Kreef (Frank Opperman) werk al van dag een af by die lughawe. Letricia werk by die klankbord en Kreef is in beheer van die opstyg, vlug patrone en landings van die vliegtuie by G.I.L.

“Ons is in ons noppies dat kykNET hierdie unieke mokumentêre reeks huisves. Ek is opgewonde om te sien wat die kykers gaan dink! Ons het ’n uitmuntende groep komiese akteurs, gelei deur Bennie Fourie wat perfek is vir die rol van Barry,” sê Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger van die reeks.

G.I.L. word vervaardig deur Paw Paw Films wat ook Sara se geheim vervaardig het. Die reeks begin op 5 April 2021 om 20:00 op DStv-kanaal 144.