Logo
web uni tv guide

eNuus

144NuusPG13
5

Pieter Jordaan

My liefde vir sport kom reeds sedert kinderdae. Soggens, as koerantafleweraar, het ek voor sonop die jongste nuus te sien gekry. Ek was een van dié wat die koerant dan van agter begin lees het.

Ek het self lank verskeie sportsoorte beoefen. Maar as waarnemer was ek op my gelukkigste. Tussen die lyne is daar mos altyd die drama, die karakters, storielyne en hoeke. Werklikheidstelevisie. Só het ek my gunsteling-rugbyskrywers getrou gevolg – die ouens wat kleur en agtergrond gee. Die bal bly ovaal, die reëls rigied, en die beginsels dieselfde. Maar daar is altyd ’n storie agter die storie.

Ek het in Potchefstroom grootgeword en kon in my tuisdorp universiteitsopleiding kry in kommunikasiekunde en joernalistiek.

Ná ’n jaar as nuusverslaggewer by Beeld het my loopbaan as sportverslaggewer by Volksblad in Kimberley, en toe Bloemfontein, begin.

Daarna het ek vir Beeld en Rapport as senior rugbyskrywer opgetree. Baie rugby, baie naweke, Springboktoetse en -toere. Heelwat opofferings om dit te doen wat ek altyd wou.

Tog het ek ’n onvervulde droom gehad om ook sport uit te saai, dalk as rugbykommentator. My aanstelling as sportanker en -skrywer by eNuus was nommerpas daarvoor. Ek kry nou gereeld die geleentheid om ’n sportbulletin saam te stel – dit te skryf en te verpak op ’n wyse wat dit interessant, relevant en geloofwaardig hou. En dan, natuurlik, uit te saai.

Dis ’n voorreg en ’n kans wat ek, solank as wat dit my beskore is, ten volle wil benut.