Logo
Die Uitnodiging
web uni tv guide

Die Uitnodiging

144RealiteitsprogramPG13

Die Uitnodiging eersdaags op kykNET

Nuus
06 Oktober 2020
Is dit moontlik vir kwaai vriendskappe of familietwis om opgelos te kan word? Dit is wat Die Uitnodiging en die aanbieder Cato Bekker gaan poog om te doen vanaf vandag om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Die Uitnodiging Billboard 2560x490

“Ek het op Nederlandse TV ‘n wonderlike program gesien,” sê Cato. “Dit was daar ‘n enorme sukses oor ‘n dekade heen. Toe wonder ek of dit ook by ons kon werk? Die konsep vereis dat mense hul harte op TV oopmaak: vertel wie/wat hulle seergemaak het en hulle foute erken. Die eerste uitdaging was om te sien of daar mense was wat dit met ons wou deel. Logisties was dit moeilik. Alle deelnemers aan elke episode moet binne ryafstand van mekaar woon, sodat almal die sleutel-ete kan bywoon.” 

Van die programme is onder meer oor vier vriendinne wat ná ‘n wegbreeknaweek nie meer kontak het nie, twee susters wat nie met mekaar praat nie en ‘n man wat kontak met sy oom verloor het ná sy ouma se dood.

Cato sê kommunikasie is volgens haar een van die belangrikste hoekstene in ‘n verhouding.  

“Om openlik oor jou gevoelens te gesels. En dan’s dit krities om te luister met die doel om te hoor, nie net die tyd te gebruik om jou antwoord uit te dink nie. Geduld is ook belangrik, dink ek.” 

Hoe dink sy het Covid-19 mense se siening oor die lewe verander? 

“Fundamenteel! Covid en die grendeltyd het ons verhinder om kontak te maak met mense vir wie ons lief is. Ons het dae en maande gehad om binne-toe te kyk en na te dink oor wat verbintenisse vir ons beteken. Voor grendeltyd was die toon van ons tipiese inskrywing: Ek mis my familie of vriend. Gedurende die grendeltyd het ‘n ander boodskap ook ingesluip: Die lewe is kort.

“Mens vind geluk in 'n gevoel van behoort, van gekoesterd wees en saamsmelt in 'n gemeenskap. Nou meer as ooit is die ideale tyd om verbrokkelde verhoudings te heel. Om gesinne en vriende weer te verbind.”

Sy sê om te weet of hulle sukses behaal het, sal kykers self moet kyk.

“Aan die einde van elke episode is daar 'n kritiese oomblik wanneer ons die deur van die limo oopmaak. Dit is wanneer jy ontdek of die persoon wat genooi is, aanvaar het. Saam met die persoon wat die probleem aangegee het, staan ek dan angstig en staar na daardie deur. Gaan iemand uit die limo klim of nie? Indien wel, dan’s daar ‘n oomblik net ná die mens uit die limo geklim het, voordat iemand 'n woord gesê het, wanneer hulle omhels.  Ek is mal oor daardie sekonde, want daar’s soveel emosie in ’n drukkie. Soveel dialoog in die liggaamstaal wanneer mense stil omhels. Ek voel: dis nóú waar die gesprek eintlik begin.”

Skakel Dinsdae om 21:00 in vir Die Uitnodiging en gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk #DieUitnodiging te gebruik.