Logo

Méér deelnemers, blomme en uitdagings in Die groenste vingers 2

Nuus
16 September 2022
Vind meer uit oor wat jy in elke episode kan verwag - van die skeppinguitdagings tot wie gaan deelneem.
die groenste vingers 2

Wie gaan hierdie keer blom en wie gaan verlep?

Die tweede seisoen van kykNET se opwindende kompetisieprogram vir bloemiste, Die groenste vingers, begin Woensdag 26 Oktober 2022 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Kykers kan uitsien daarna om in 13 episodes op 21 uitdagings en 77 nuwe ruikers, rangskikkings en skeppings getrakteer word.

In ’n splinternuwe formaat sal 15 van die land se voorste blomliefhebbers en bloemiste, waarvan die meeste óf permanente óf vryskutbloemiste is, kragte meet in ’n verskeidenheid uitdagings waarin hulle unieke rangskikkings moet ontwerp en skep. Die oudste deelnemer is 60 jaar oud; die jongste is 24, en elke deelnemer het ’n eie styl en sterk punte. Uitdagings – van tradisioneel tot avontuurlik ongewoon – sluit in ’n staalboog vir ’n troue, blomme vir kinderpartytjies, gotiese kandelare en skilderynabootsings. Daar sal ook weer ’n blom-couture-uitdaging wees. ’n Blommemark en raaiselbokse sal daarby tot die deelnemers se beskikking wees. Uitdagings vir spanne is ’n nuwe toevoeging tot die program waarin deelnemers saam moet werk om spanskeppings uit te voer. ’n Spesiale Kersfees-geïnspireerde episode sal in Desember uitgesaai word. 

Verskeie plaaslike bekendes sal as gasbeoordelaars ingeroep word – van ’n plaasjapie tot ’n mode-ghoeroe en aktrises.

In die eerste vyf episodes sal drie bloemiste teen mekaar meeding in twee uitdagings – ’n mini-skepping, waar die wenner ’n voordeel wen, en ’n solo-skepping. Slegs twee sal deurdring na die volgende ronde. In die sesde episode sal die toptien-deelnemers in die kweekhuis kragte meet in hulle eerste spanskeppingsuitdaging.

Die uiteindelike wenner van hierdie seisoen se Die groenste vingers-kompetisie sal R100 000 in die sak steek. 

Edrien Erasmus is weer die aanbieder, en Leon Kluge en Franz Gräbe keer terug as beoordelaars.

Geniet die terugflits na die vorige seisoen se finalé, hier:

 “Ons is baie opgewonde om 'n splinternuwe, groter en beter, uur lange weergawe van Die groenste vingers aan te bied. Ons hoop kykers geniet die tweede seisoen net soveel soos wat ons dit geniet het om dié pragtige program nuwe lewe te gee,” sê Lyall Ramsden, vervaardiger van die reeks. 

Die jongste seisoen is in ’n kwekery in Johannesburg verfilm. Alle blomme is vars afgelewer deur Alsmeer Blommemark, en ruikers is ná afloop van die verfilming aan liefdadigheidsorganisasies geskenk. 

Die groenste vingers begin Woensdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Jy kan ook die hutsmerk #DieGroensteVingers aanlyn volg.