Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binnelanders se “verlore seun” keer terug

Nuus
07 April 2015
In April is daar meer as een verlore seun wat terugkeer na Pretoria, maar die sonskyn wat elkeen bring is van korte duur.
April Hoogtepunte 1
In April is daar meer as een verlore seun wat terugkeer na Pretoria, maar die sonskyn wat elkeen bring is van korte duur.

Op 10 April is Malan Koster (Paul du Toit) weer terug in die stad, en dié keer gaan At Koster (Hans Strydom) nie op hom laat wag nie. Hy wil ’n Koster aan die stuur van sake hê wanneer hy eendag besluit om af te tree en Malan gaan maar net moet verlief neem dat die onus op hom gaan rus. Maar hoe gaan At vir Malan probeer oortuig dat hy wel in sy pa se voetspore moet volg? En wat gaan Jana du Preez (Brümilda van Rensburg) daaroor te sê hê?

Jana wil juis meer as net ’n professionele verbintenis tot die Koster-naam hê. Gaan dié droom eersdaags aan skerwe spat of gaan At uiteindelik die moed bymekaar skraap en sy meer as net sy staatmaker in die raadsaal word? En wat weet Malan van Jana?

Dis natuurlik nie net Jana en At wat deur Malan se terugkeer geraak word nie. Nina Jonker (Lumé Vorster) se ouers, Daleen (Desiré Gardner) en Tertius (Reynardt Hugo), se lewens gaan beslis geraak word.

34 april hoogtepunte 4


Jana se oudste en slimste seun, Herman du Preez (David Konrad), maak ook sy opwagting. Dié mannetjie is nie net gekwalifiseer as ’n prokureur nie, maar ook ’n dokter, en ’n mens kan nie help om te wonder of hy beide grade klaargemaak het omdat hy so slim is, of omdat hy iets het om te bewys nie. Herman beland in Pretoria wanneer hy sy werk as mynprokureur bedank, maar hier is beslis ’n slang in die gras. Hy is nie juis gretig om sy besluite aan sy ma te verduidelik nie – wat nog te sê om sy ma behoorlik te laat weet dat hy homself in Pretoria bevind. Dalk sal Maggie Kruger (Yvonne van der Bergh) die regte antwoorde vir Jana hê…

Herman en Malan is nie Jana se enigste twee hoofpyne in April nie – sy sal ook met Karli (Pascal Pienaar) moet praat. Pippa (Nadia Valvekens) vind uit van Karli se studieverlof-bedrywighede, en dít jaag die assistant-matrone se bloeddruk deur die dak. Wanneer Pippa uiteindelik ’n besluit neem oor die jong verpleegstertjie se gedrag, lyk dit asof Karli vry sal wees om te maak net wat sy wil – selfs al neem haar besluit haar Kenia toe.

34 april hoogtepunte 1


 

34 april hoogtepunte 2


Morné Gericke (Ruan Wessels) se verjaarsdag is ook nou nie juis die pret-en-plesier jolyt waarna almal so uitsien nie, want Ivanka (Leandie du Randt) bly blykbaar ’n struikelblok in ’n vriendskap te wees. Emil (Deànré Reiners) se rammetjie-uitnek-houding raak een te veel vir Morné, met die gevolg dat ’n aand in Nagskof dalk nie die beste plek is om die saak uit te sorteer nie.

Wimpie du Toit (Paul Luckhoff) se vakansie in die kleine (in Groot Marico) neem ’n wending wanneer die bejaarde terugkom met slim boererate vir elke ding onder die son – selfs vir Breggie (Julie Strydom) se hart. Maar neem Wimpie dit dalk een stap te ver?

34 april hoogtepunte 6


Dinge tussen Nick (DJ Mouton) en Zadie (Quanita Adams) wil ook nou maar net nie klopdisselboom gaan nie – en dit is nie nét Adelyn (Zeena Edwards) se skuld nie. Gaan die twee hulle harte kan uitsorteer? Of is die skrif aan die muur vir hul huwelik? En hoe raak hierdie ‘rollercoaster’-liefdestorie vir arme Naomi (Je-ani Swiegelaar)?

Dié en selfs meer drama en intrige wag op kykers in April. Kyk Binnelanders elke weeksaand om 19:30, net op kykNET.