Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binnelanders: ’n Warm seisoen lê voor

Nuus
01 September 2017
Die nuwe seisoen bring eersdaags nuwe gesigte na die gange van die Binneland-kliniek.
Binnelanders

Op 1 September is dit Lentedag, en tyd vir vars nuwe gesiggies en ou bekendes om weer hul verskyning te maak in Binnelanders.

Delia Richter (hooffoto), vertolk deur Odelle de Wet, is weer terug – en hierdie keer het haar fokus verskuif van pure wraak na pure besigheid. ’n Paar jaar gelede was Delia die doring in At Koster se vlees, omdat sy wou wraak neem vir haar ma se dood. Sy was altyd onder die indruk gewees dat At verantwoordelik was vir haar ma se dood, totdat haar pa uiteindelik met die waarheid vorendag gekom het.


1504255614 34 binnelanders ep86 1

 

Dries/AJ/Andries (vertolk deur André Odendaal) was al die tyd die skuldige – een van sy persoonlikhede was verantwoordelik vir haar ma se dood, maar het die skuld netjies voor At se deur gaan pak.

Delia se oë het oop gegaan, maar in die proses het sy ander redes gekry om At te begin haat – en hier is sy weer om die man te slaan waar dit seer maak.

1504254955 34 binnelanders ep60 4

 

Brett Adler, vertolk deur Anton Schmidt, het nog nooit regtig ooghare gehad vir At Koster nie, en nie net omdat Brett die hoof van Southern Hope, Binneland Kliniek se grootste mededinger in die mediese veld, is nie. Daar was ’n kol wat Brett gedink het Jana (destyds Du Preez) sou die perfekte ambisieuse lewensmaat vir hom gemaak het – tot Jana vir At bo almal gekies het. Brett is nog in kompetisie met At, maar hy verkies deesdae om sy konkelwerk in die donker, en in stilte, uit te voer.

1504255212 34 binnelanders ep56 2

 

Kykers het reeds weer kennis gemaak met Elana Bester (Ilne Nienaber), maar hierdie rondte is dit die komplikasies wat Rebecca (Cloe Rinkwest) en Kenneth (Ryan Flynn) veroorsaak wat gaan lei tot die ontdekking van ’n ander sy van Elana – die donker, diep, en baie gevaarlike gedeelte! Elana aard baie meer na haar broer as wat meeste mense dink, en in die volgende paar dae gaan kykers uitvind presies hoe gevaarlik Elana kan word wanneer sy in ’n hoek gedryf word.

1504255125 34 binnelanders ep59 5

 

Chloe is Lexi se vriendin by wie sy gaan bly het tydens die hele Tim Jantjes/Justin George-storielyn wat in Julie afgespeel het. Chloe word vertolk deur René Cloete, wat die Kaapstad Toneelkompetisie TV-rol losgeslaan het in 2016. Die talentvolle jong dame gaan vir kykers presies wys hoekom sy op TV hoort in ’n klein, maar belangrike rol in die voortdurende aanpassingsprobleme wat Lexi en Damien in die Abrahams-huishouding ondervind.

1504255368 34 binnelanders ep83 2

 

Robbie (vertolk deur Anton Swanepoel) is ’n donker man wat sake vir die driemanskap (Elana, Annelize, en Conrad) nog behoorlik gaan kompliseer. Hierdie is nie jou gewone straatskelm nie, maar iemand wat net nie kan los van dit wat hy voel hom toekom nie. Anton is ook verbonde aan die skrywersdepartement by Binnelanders, en hy het presies geweet waarvoor hy homself inlaat toe hy die rol losgeslaan het.

1504254826 34 binnelanders ep74 2

 

Die gewilde sanger Rikus Nel kom ook ’n draai maak op Maandag, 25 September, om Erfenisdag te vier. Rikus se optrede in Nagskof is deel van ’n verrassing, maar dit is nie die enigste verrassing op die aand nie.

Ja, September is voorwaar ’n maand waar Binnelanders gaan sorg vir volgehoue intriges met nuwe drama en vars gesigte – selfs wanneer daar gebruik gemaak word van ‘ou liedjies op ’n nuwe deuntjie’!  

Binnelanders word weeksaande om 19:00 op kykNET, kanaal 144 uitgesaai.