In September loop die reeks weg met die louere as die Royalty Soapie Awards se beste daaglikse drama van die jaar, in Oktober vier die reeks sy vyftiende bestaansjaar, en in November sluit etlike ‘nuwe’ gesigte by die reeks aan.
Aktrise Ilana Cilliers as die op-die-oog-af behulpsame, oorvriendelike verpleegster Rita Nortier gaan die tonge laat gons. Cilliers is in 2016 bekroon met ‘n kykNET Silwerskermtoekenning as beste ondersteunende aktrise vir haar rol as Anja in die bekroonde rolprent ‘Johnny is nie dood nie’, wat ook aan haar ‘n SAFTA-nominasie besorg het.
Fisioterapeut Julia Wessels (Eloise Clasen), kry ‘n pos by Binneland Kliniek, maar die gedeelde werksomgewing beproef haar en haar eerste liefde dr. Hugo Vos (Cobus Rossouw Jr) se professionaliteit tot die uiterste.
Dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) se korrelkop-pa Koos, vertolk deur Ryno Hattingh, maak onverwags sy opwagting - met dramatiese gevolge. Hattingh het veral in die 80s bekendheid verwerf in televisiedramas soos ‘Konings’, ‘Vyfster’ en ‘Koöperasiestories’, asook in rolprente soos ‘Sterretjie’ en ‘Kiepie en Kandas’.
'n Bekende gesig in ‘n nuwe gedaante kom by Binneland Kliniek aanklop op 11 November. Maltrap-verpleegster Elise (Lindie Stander) wat in 2013 besluit het om Pretoria te verlaat om haar pa te gaan versorg, is terug! Kykers wat wonder waarmee sy haarself die afgelope sewe jaar besig gehou het: Lindie kuier Sondag, 15 November saam met BRAVO!
Henrietta Gryffenberg, o.a. bekend vir haar rol as Karen in ‘Die Sonkring’, sluit in November by die Binnelanders-span aan as die geheimsinnige Wendy Toerien wat oormatig geïnteresseerd is in ‘n Ongevalle-pasiënt. Niemand verstaan hoekom nie, tot ‘n sekere dag…
Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.