Logo
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

‘Jolene, Jolene, Jolene’ – Arendsvlei

Nuus
07 Februarie 2019
Op die ritme van Jolene Martin se deuntjie...
‘Jolene, Jolene, Jolene’ – Arendsvlei

Dis moeilik om aan Arendsvlei te dink sonder dat die naam Beatrice Abrahams jou byval. Dié ystervrou plaas altyd die skool se belange eerste. Dít is waarom sy vroeg in die reeks diep in kykers se harte gekruip het.

Maar wie is die vrou agter hierdie gewilde karakter en hoe stem sy ooreen met die persoonlikheid wat sy op ’n gereelde basis uitbeeld? Ons het met Jolene Martin gesels om uit te vind.

1. Watter hashtag sal jy gebruik om vir Beatrice te beskryf?
Ek kan nie ’n hashtag kies wat beter is as die een wat kykers gegee het nie – #BeautifulBeatrice. Dit het my só aangeraak, en my gewys dat mens skoonheid in enigiets kan vind – enige plek en enige situasie. Hulle het dié hashtag gebruik toe Beatrice se lewe besig was om uitmekaar te val. Sy het dalk nie beeldskoon voorgekom op daardie stadium nie, maar dit het vir my gewys dat hulle haar hart kon sien. 

2. Beatice het ’n simbool van bemagtiging en moed geword in die reeks, veral in haar verhouding met David. Wat beteken dit vir jou om só rol te vertolk?
Dis vir my só ’n eer om die rol van Beatrice te vertolk en dat sy deur kykers gesien word as ’n simbool van bemagtiging. Dit is ’n reuse seëning om sulke betekenisvolle werk te kan doen. 

3. Hoe het jy voorberei vir hierdie rol?
Voorbereiding vir dié rol was uitdagend en het reeds in Johannesburg begin, nog voordat ek Kaap toe getrek het vir die verfilming van ArendsvleiEk het onder meer terug gegaan na vorige ervarings wat ooreenstem met dié van Beatrice. Soos baie mense sal verstaan moes ek weer ou wonde oopgrou. Ek het myself geïsoleer om te onthou hoe dit voel om eensaam te wees, en het selfs opgehou musiek luister en TV kyk. Toe ons die tonele van huishoudelike geweld verfilm het, was dit ’n onaangename winter in Kaapstad. Ek het aspris nie warm aangetrek nie sodat ek my karakter se vrees meer dramaties kon uitbeeld. Ek het selfs my teks op my balkon in Bloubergstrand gelees sodat ek die gevoel van koud en eensaamheid kon beleef. Dis net ’n paar maniere hoe ek voorberei het vir die rol.

4. Hoe sal jy die verhouding met die akteurs op stel beskryf?
Ons het van dag een af ’n spesiale verhouding gevorm en ons gee mekaar baie drukkies op stel. Dis soos ’n NBA-span: Ons motiveer mekaar aanhoudend en vertel grappe, maar wanneer dit tyd is om ernstig te raak, doen ons ons werk soos ’n ervare span.

5. Wat sal jou droomrol in ’n reeks of film wees?
In ’n reeks sal ek ’n spioen wil speel, waar elke episode ’n ander scenario is en ek verskillende personas moet gebruik afhangend van die scenario. In ’n fliek sou ek graag iemand soos Gorgo in 300 wil speel. Ek hou van period pieces en sal dit geniet om ’n intelligente warrior female uit te beeld.

6. Watter persoonlike eienskappe sal jy sê het jy in gemeen met jou karakter op Arendsvlei?
Ek’s ook familie-geörienteerd, lief vir kinders, ’n tugmeester, glo in geregtigheid en het ’n sagte hart net soos Beatrice.

7. Hoe sou jy voel om die rol van Wendy te vertolk, en dink jy dat jy ’n goeie skurk kan speel?
Ek sal mal wees daaroor om ’n super-villain uit te beeld. Ek dink daar’s niks meer vreesaanjaend as om iemand te begin haat wat jy oorspronklik van gehou het nie. Om ’n likeable bad girl te speel is iets wat ek regtig sou geniet.

Wat lê volgende voor vir Beatrice? Skakel in op kykNET&kie, kanaal 145, elke Maandag tot Woensdag en vind uit. Gesels ook saam op sosiale-media met die hutsmerk #Arendsvlei op Facebook, Twitter en Instagram.