Logo

Wat sal Afrikaans wees sonder Afrikaanse koerante?

Nuus
24 Februarie 2015
Die gedrukte titels is in afgang en die digitale media is in aanmars. Tog het laasgenoemde net nie die impak, die trefkrag wat die gedrukte media steeds het nie.
Screen Shot 2014-11-17 at 7.51.04 PM
Deur TIM DU PLESSIS

Ek sien nou die dag ‘n tabel wat wys hoe die verkope van koerante en tydskrifte oor die tienjaar-tydperk tussen 2004 en 2014 gedaal het. Nie aangename leesstof vir iemand wat ‘n leeftyd in die drukmedia deurgebring het nie. En ietwat onheilspellend as jy dink watter belangrike rol die media, bepaald meningsvormende koerante, steeds in Suid-Afrika se stamelende demokrasie speel.

Sonder twyfel is die toekoms van nuusmedia digitaal. Dis lankal nie meer so vergesog om te dink ‘n dag sal nog aanbreek waarop die laaste gedrukte dagblad sal verskyn nie. Die New York Times, een van die wêreld se vlagskip-koerante, verdien al heelwat langer as ‘n jaar méér uit sy digitale subskripsies as uit intekenare op die gedrukte koerant.

In Suid-Afrika is nog ver agter hiermee. Meer en meer mense verbruik inderdaad nuus vanaf digitale platforms, maar die meeste van die tradisionele mediamaatskappye verdien steeds die leeue-aandeel van hul inkomste uit die omslagpryse en advertensies in die gedrukte koerante. Maar daardie “gedrukte” inkomste neem af. En die verdienste aan die digitale kant is iewers tussen skraps en skraal. Die sakesyfers is beroerd.

Uit die tabel wat ek gesien het, blyk dit feitlik geen publikasie het die slagting van die afgelope tien jaar vrygespring nie. Die sirkulasies van “instellings” soos die Sunday Times, Business Day, Daily Sun, Huisgenoot en Financial Mail is af met tussen 20% en 25%.

Maar van die grootste dalings het by Afrikaanse titels voorgekom. Rapport se sirkulasie het van 2004 tot 2014 met 51% gedaal. Beeld s’n met 48% en dié van Die Burger met 45%. Die tydskrif Sarie se verkope het met 38% gedaal en Rooi Rose s’n met 28%.

Die redes hiervoor is legio, kompleks en vol teenstrydighede. Dis ‘n debat vir ‘n ander dag, onder kundiges met meer detailkennis as ek.

Hoe sal Suid-Afrika lyk as van die titels hierbo genoem nie meer bestaan nie? En hoe sal die Afrikaanse gemeenskap lyk, een waarin instellings soos Die Burger, Volksblad, Sarie en Huisgenoot so ‘n belangrike rol gespeel het, in die geval van Die Burger, al vir die afgelope 100 jaar?

Hoe sterk sal Afrikaans nog staan as daar nie meer lewenskragtige Afrikaanse koerante en tydskrifte is nie? Afrikaanse koerante, tydskrifte, boeke, rolprente, en televisie- en radioprogramme is die asemteue waarsonder die taal nie kan oorleef nie.

Dalk kyk ek net nie skerp genoeg nie, maar ek sien min getuienis dat Afrikaanse nuuswebblaaie en ander digitale platforms daardie kultuurskeppende en bindende rol speel wat die Afrikaanse koerante en tydskrifte oor dekades heen vervul het.

Die gedrukte titels is in afgang en die digitale media is in aanmars. Tog het laasgenoemde net nie die impak, die trefkrag wat die gedrukte media steeds het nie. Ondanks dalende verkope. Dis die koerante wat die skandale, die vergrype en die korrupsie onthul, wat die verkwisting van belastinggeld uitwys en wat die magtige politici op hul tone hou. Nie dit wat op Facebook, Twitter, blogs en digitale nuusblaaie verskyn nie. Geen ander medium kon nog dié waghondrol so effektief speel soos gedrukte koerante nie.

Ja, baie van die nuus breek op dié platforms en op radio en TV. Maar die nuus en die stories kry eers lading as die koerante hulle opneem, verder voer en publiseer.

Afrikaanse koerante en tydskrifte het oor dekades heen ‘n groot rol gespeel in taalvorming. Konsepte, begrippe en terme wat uit ander tale in Suid-Afrika aangekom het, het hul Afrikaanse name gekry in Afrikaanse redaksiekantore. Hele hoofstukke is al hieraan gewy, veral wat betref terme in sporte soos rugby, krieket en gholf.

En dit gaan steeds aan. Toe Eskom ‘n paar jaar gelede loadshedding op ons loslaat, is die woord “beurtkrag” in Beeld se redaksiekantoor uitgedink. Die jongste een is “hommeltuig” vir drone – ook by Beeld geskep.

Gaan die Afrikaanse digitale nuusplatforms dié rol oorneem as Afrikaanse redaksiekantore nie meer bestaan nie? Kan hulle?

Die groot digter en skrywer Jan Rabie het geskryf “sonder Afrikaans is ek niks”. Wat sal Afrikaans wees sonder Afrikaanse koerante?

Dis onseker, maar die impak sal nie gering wees nie.