web uni tv guide
web uni tv guide

Voetspore

144AvontuurPG13

Voetspore maak ’n derde epiese draai in Suid-Amerika

Nuus13 Februarie 2026
Die nuwe seisoen van dertien episodes is die derde een oor Suid-Amerika en begin 11 Maart op kykNET (DStv-kanaal 144).
Voetspore

Die Voetspore-span, onder leiding van Johan Badenhorst, voltooi met Voetspore: Suid-Amerika 3 hul trilogie oor hierdie skouspelagtige deel van die wêreld. Venezuela, Guyana, Suriname, Brasilië en Uruguay is dié keer deel van die avontuur. Die nuwe seisoen van dertien episodes is die derde een oor Suid-Amerika en begin 11 Maart op kykNET (DStv-kanaal 144).

Die eerste stop is Venezuela – ’n land wat onder ernstige korrupsie en wanadministrasie ly, maar ook van die mooiste natuurskoon op die vasteland het. Die span beleef die Mérida Teleférico, die hoogste en tweede langste kabelkarrit ter wêreld.

In Guyana, die land met die hoogste ekonomiese groeikoers internasionaal as gevolg van die onlangse ontdekking van groot oliereserwes, verken Johan-hulle ’n plek wat baie meer Karibies as Suid-Amerikaans voel.



Suriname is ’n voormalige Nederlandse kolonie. Almal in dié land – van die nageslag van slawe uit Afrika en die Hindoes wie se voorvaders op die suikerrietlande gewerk het tot die groot inheemse, Joodse, Christelike en Moslem-gemeenskappe – deel Nederlands as ’n gemeenskaplike taal.



Die reis eindig in Brasilië – die reus van Suid-Amerika. Die span begin in die Amasone-kom en reis dan met dié magtige rivier na die Atlantiese Oseaan. Vanaf Belém, aan die suidelike oewer van die Amasone-mond, toer die span kuslangs, via Natal, na Salvador. Ná ’n kort kuier in die binneland van Brasilië, besoek die span die indrukwekkende Rio de Janeiro en die suidooste van die land met pragtige stede, Florianópolis en Porto Alegre. En dan eindig hulle in Uruguay, waar die eerste reis na Suid-Amerika drie jaar gelede begin het.

​​​​​​​

“Dié drie seisoene oor Suid-Amerika was ’n epiese avontuur en ’n reis van meer as 45 000 km,” sê Johan. “Hierdie laaste tog was meer as 16 600 km en het met sy eie uitdagings en vreugdes gekom. Dit is dertien episodes met ’n span wat deur dik en dun bymekaarstaan, en wat hierdie deel van Suid-Amerika in al sy fasette ervaar het. Om dit in ’n TV-reeks te beleef, gaan kykers beslis vasgenael hou. Wat ’n voorreg!”

Voetspore: Suid-Amerika 3 begin 11 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.