Logo

Vir die Voëls: Hoeka Toeka kry nuwe baadjie

Nuus
15 November 2016
“Hoeka Toeka” het ’n splinternuwe baadjie gekry vir Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, en belangstellendes kan nou bespreek vir ’n spesiale kans om die fliek te sien!
VDV HoekaToeka

“Hoeka Toeka” het ’n splinternuwe baadjie gekry vir Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, en belangstellendes kan nou bespreek vir ’n spesiale kans om die fliek te sien!


Vir Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, het die talentvolle sangeres Charlize Berg en die vervaardigers Hugo Ludik en Vaughan Gardiner kragte saamgesnoer om vir die treffer “Hoeka Toeka” ’n nuwe baadjie aan te trek. Carike Keuzenkamp se oorspronklike weergawe word gehoor in die fliek, wat vanaf 25 November in teaters draai, maar Charlize, Hugo en Vaughan se weergawe gaan as ’n musiekvideo uitgereik word en vanaf 15 November 2016 oor die radio opklink.

“Dit was senutergend om Carike Keuzenkamp se skoene vol te staan,” sê Charlize. “Maar Hugo en Vaughan het die spreekwoordelike tweede myl saamgeloop en hul stempel op die liedjie afgedruk. Hulle het die klank vir my stem en styl verwerk, maar dit getrou aan Carike gehou,” sê Charlize. “Die eindresultaat is iets besonders. Dis ongelooflik mooi en kreatief, met verskillende harmonieë en hoë note.”

Vaughan vertel dit was vir hom en Hugo ’n intimiderende maar opwindende opdrag. “Dis ’n legendariese liedjie; jy wil dit nie verwoes nie. Dit was ’n uitdaging om dit te omskep in iets waarna mense steeds wil luister. Wanneer hulle dit hoor, moet hulle dink: ‘A, dis daai liedjie!’ Ons wou die struktuur behou, maar dit vars laat klink en dit ’n byderwetse popmusiekgevoel gee.”

Hugo sê: “Hedendaagse popmusiek verskil van dié van ’n paar jaar gelede. Die liedjie se koor is destyds baie meer herhaal en die uiteensetting was eenvoudiger. Vandag luister mense 10 sekondes na ’n liedjie en dan soek hulle iets nuuts. Ons wou die liedjie kreatief en interessant omskep en by vandag se popstyl laat inpas. Ons het getrou gebly aan sekere elemente, soos die liedjie se melodie en lirieke, maar dit met instrumente soos tromme en kitare modern gemaak. Charlize het ’n veelsydige stem en ons het die verwerking van “Hoeka Toeka” daarop gegrond. Natuurlik was ons op ons senuwees, want mense kan voel die liedjie is eie aan Carike, en ons wou dit nie oordoen nie. Mettertyd het alles mooi begin saamwerk en iets magies is geskep.”

Vaughan glo hulle het die essensie behou, maar dit reggekry om die gewilde liedjie te omskep in iets hedendaags en kreatiefs. Luister hier na ’n lusmaker.

Vir die Voëls is gegrond op die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd geterg het. Tot kort tevore het sy vas geglo onafhanklikheid is die enigste vorm van vryheid, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oor haar oortuigings laat nadink.



Die verhaal speel in die laat 1970’s af en gaan die hartsnare roer. Dit is ’n nostalgiebelaaide rolprent oor ’n sterk vrou wat haar tyd vooruit was en ’n man met so ’n sterk identiteit dat hy ’n vrou kan respekteer en vir haar liefde veg. Dit is ’n storie oor die stryd teen jouself en hoe om te keer dat omstandighede en emosionele bagasie jou kans op geluk verongeluk.

The Film Factory het Vir die Voëls is in samewerking met kykNET Films vervaardig. Die rolverdeling sluit ook in Elize Cawood, Nicola Hanekom, Neels van Jaarsveld, Drikus Volschenk, Leandry Smith, Liam Bosman, Lara Kinnear, Candice Kruger en Bennie Fourie. Die rolprent word op 25 November 2016 uitgereik en deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

Nog goeie nuus is dat Vir die Voëls op Saterdag 19 November 2016 by bioskope landswyd te sien sal wees! Belangstellendes kan van Woensdag 16 November op Ster-Kinekor se webtuiste, sterkinekor.com, vir hierdie spesiale vertonings bespreek.