Logo

Vier saam Kersfees by die kykNET Kerskonsert

Nuus
10 Oktober 2022
Kry nou jou kaartjies!
kykNET Kerskonsert

Kersfees is ’n tyd van liefde en samesyn, vir gee en deel, en vanjaar se Kersfees gaan nog meer magies wees met die kykNET Kersfeesblyspel! Hierdie spesiale geleentheid word op 30 November by die Mosaïek-teatro in Fairland, Johannesburg opgeneem en sal op Oukersaand, 24 Desember, op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

Die Kersverhaal gaan op ’n unieke wyse vertel word met geliefde Afrikaanse Kersliedjies wat tussendeur geweef word. Die gehoor kan ook uitsien na ‘n “carols by candle-light” saamsing geleentheid, na afloop van die TV-opname.

Die bekendes wat deel van die produksie is, is Leah, Germandt Geldenhuys, Willem Botha, Early B, Stephanie Baartman, Hamilton Wessels, André Schwartz en Lynelle Kenned.

“Die teks is deur die bekroonde akteur en dramaturg Wessel Pretorius geskryf, André Schwartz is die verhoogregisseur en André Velts behartig die TV-regie,” sê Soné Combrink, die uitvoerende vervaardiger. “Die musiekregisseur is Bryan Schimmel en Janine Neethling behartig die musiekverwerkings.”

Wees deel van die gehoor deur vanaf 10 Oktober 2022 by iTickets te koop. Kaartjiepryse is tussen R150 en R220.

“Kinders bo die ouderdom van drie is welkom. Kersvader gaan ook daar wees en kinders gaan die geleentheid kry om ’n foto saam met hom te neem,” verduidelik Soné.

kykNET wys ook waar hulle hart lê en vra konsertgangers om speelgoed saam te bring wat later aan behoeftige kinders geskenk gaan word.

Gaan na www.itickets.co.za om nou jou kaartjies te koop. Moenie hierdie sonderlinge gebeurtenis misloop nie.