Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Verbreek die stilte – Suidooster

Nuus
25 Mei 2021
Ons gesels met Jawaahier Petersen, wat die rol van Kaashifa speel...
kaashifa bb

Suidooster se Imraan en Kaashifa was skaars terug van wittebrood toe die krake in hulle huwelik begin wys het. Nie net is Imraan (Marlo Minaar) besitlik en agterdogtig nie, hy kan skaars sy woede beteul. Jawaahier Petersen, wat die rol van Kaashifa speel, het ‘n meestersgraad in maatskaplike werk en sy verduidelik hoe vroue in sulke huwelike beland en wat die oplossing is.

Hoekom het Kaashifa eers ná die troue uitgevind van Imraan se besitlikheid en humeur? Of is daar mans wat eers hulle ware kleure ná die wittebrood wys?
Ek het in terapie gespesialiseer en deur die jare gesien hoe mense ‘n deel van hulself kan wegsteek, maar hulle kan daardie masker net vir ‘n tyd lank ophou voor dit begin gly. Die tekens vir Kaashifa was daar, maar sy – én die kykers – het verkies om dit nie raak te sien nie. Hy was hierdie ridder op ‘n wit perd en mense het sulke groot verwagtinge van die verhouding gehad. Sy het haar ouma verloor en was ‘n weeskind en die verhouding was ‘n toevlug, ‘n maklike strik om in te trap. Dit gebeur ongelukkig met baie vroue. Hulle dink ‘n verhouding is die enigste oplossing.

Kykers gaan later begin besef hoekom Imraan is soos hy is. Soos dit met mense soos Imraan is, is dit gewoonlik die mense naaste aan hulle wat die seerste kry juis omdat hulle die mense is wat die vinnigste die knoppies kan druk. Omdat Imraan en Kaashifa nou getroud is, is dit nog makliker vir hom om sy agressie op haar uit te haal.

Wat is jou raad aan vroue wat in so ‘n huwelik/verhouding is?
Veiligheid eerste. Daar is altyd ‘n kans dat dit fisies kan raak. Ek het ook gesien dat sulke gedrag met tyd net erger word as dit nie aangespreek word nie. You can’t heal them through love. My raad is dus om jouself, en as daar kinders is, uit die situasie te kry. Daarom sê ek weer: Veiligheid eerste. Mense moet ook onthou dat die skade wat so ‘n persoon kan aanrig, jou lewe lank by jou kan bly.

Dit beteken egter nie dat dit noodwendig die einde van die verhouding moet wees nie. Imraan het byvoorbeeld nie oornag ‘n monster geraak  nie. Hy moet dus eers gesond word voor hy aan sy verhouiding met ander mense kan werk.

Die samelewing is baie lief om te sê vroue moet by sulke mans bly omdat hulle dan lief is vir hom, maar dis onregverdig. Dit is ongelukkig ‘n realiteit dat baie vroue nêrens het om heen te gaan nie. Die eerste stap in so ‘n geval is om daaroor te praat. Om in stilte daarmee saam te lewe, is baie gevaarlik. Jy moet jouself van die geheim losmaak. Om die geheim van so ‘n verhouding te hou – daar word soms selfs van kinders verwag om hierdie geheim te help dra – gaan niemand help nie. Kry ‘n vertroueling met wie jy kan praat en verbreek die stilte. Dit is die eerste stap in die regte rigting.

In baie gemeenskappe is veral vroue se status gekoppel aan hulle huwelike en daarom is dit vir hulle moeilik om te praat. Ek was senuagtig om hierdie storie aan te pak omdat ek  weet hoe sekere gemeenskappe situasies soos hierdie kan hanteer. Dit word amper gesien as ‘n skande en wanneer ‘n man sy vrou slaan, sal daar vir haar gevra word wat sy gedoen het om hom uit te lok. Of daar sal vir haar gevra word hoekom loop sy nie net nie? Regtig? Dink mense werklik dis so maklik?

Ek het met soveel mense hierdie pad gestap waar dit baie sleg geëindig het. Dit is regtig nie maklik nie. En om te sien hoe Kaashifa se persoonlikheid mettertyd verander, was hartseer. Ek het egter soveel terugvoer van kykers gekry wat sê hulle sien hulself in haar, so ek weet dit was baie belangrik om hierdie storie te vertel.

Kan mans soos Imraan verander?
Ja, beslis. As jy nie ‘n biologiese fout het soos dat jy byvoorbeeld ‘n psigopaat is of breintrauma gehad het nie, kan jy verander. Daardie gesegde van boys will be boys is onsin. As terapie net nie so ‘n vloekwoord vir mans was nie. Daar is soveel gebreekte seuns wat in manslywe rondloop. As hulle van daardie giftigheid kan ontslae raak, gaan dit nie net beter vir hulle wees nie, maar vir almal om hulle. Kry hulp. Maak jouself gesond en bly vir eers weg van die mense wat jou slaansakke is.

Imraan probeer op sy eie manier om homself te verbeter. Hy sal ‘n bossie blomme koop, maar dis soos om ‘n pleistertjie op ‘n groot wond te plak. Hy gaan deur ‘n proses moet gaan om te ont-leer wat hy al die jare gedink het was die regte manier. Dis ‘n uitdaging, maar dit kan gedoen word; vir hom en vir mans soos hy.

Is dit vir jou uitdagend om hierdie tonele te speel?
In die begin was dit. Ek was bekommerd omdat geweld teen vroue wêreldwyd so ‘n groot probleem is en reg hanteer moet word, maar toe ek deur die draaiboeke gegaan het, het ek van my pasiënte herken. Ek het so passievol daaroor geword om juis hierdie storie te vertel en was baie dankbaar dat die skrywers en vervaardigers dit vir my gegee het om te vertel. Hier moet ek ook net dankie vir Marlo Minnaar sê want hy is ongelooflik om teenoor te speel. Dit was vir hom net so moeilik om hierdie tonele te speel en hy het soveel kritiek op sosiale media oor sy karakter gekry. Soms, wanneer ons klaar met ‘n toneel was, het ek en hy soos riete gebewe want dit is nie wie ons is nie, maar ek en hy weet hierdie is ‘n storie wat vertel moet word. En om te dink daar is vroue wat elke dag so voel …

Hoe lyk die toekoms vir Kaashifa en Imraan?
Al wat ek gaan sê is dit: Vir my as aktrise én maatskaplike werker was die pad wat hulle gaan loop, die een wat ek sou aanbeveel.

Wat mis jy die meeste van jou vorige lewe in sielkunde/maatskaplike werk?
Wat ek nié mis nie, is die verantwoordelikheid van die werk met kinders en tieners veral vandat ek self ma geword het. Jy word blootgestel aan die aakligste kant van die lewe en dis nie maklik nie. Wat ek wel mis, is die suksesverhale. Die kind wat nie kon praat nie en dan later ‘n A in matriek kry, die aangenome kind wat uiteindelik vrede in hulle hart kry.

Ek is baie dankbaar vir daardie agtergrond en dit sal sorg dat ek altyd nederig bly in alles wat ek doen. As gevolg van my werk op Suidooster, het ek ook nou ‘n platform wat ek baie graag sal wil gebruik om praatjies te hou. Dit gaan my ‘n kans gee om mense op ‘n groter skaal te help.

Wat is die beste raad wat jy as vrou gekry het?
Definieer jouself as meer as hoe die samelewing jou sien. Vir vroue word daar al hoe lank gesê jy moet ‘n vrou wees, ‘n ma wees en ‘n goeie kok wees. Vir my familie was opvoeding egter nog altyd belangriker. Ons is soveel sterker as vroue deesdae. Ons moet daardie mag en krag vasgryp. Een sterk vrou op haar eie is belangrik, maar dink net wat kan ‘n honderd of ‘n duisend vroue doen?

Onthou om weeksaande in te skakel vir Suidooster en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerk #Suidooster te gebruik.