Logo

Ver in die wêreld: Lusmaker begin ysig

Nuus
03 September 2020
Suid-Afrikaners woon deesdae in die verste uithoeke van die wêreld. In die nuwe leefstylprogram Ver in die wêreld gaan daar gepoog word om hierdie Suid-Afrikaners te gaan opsoek.
Untitled design

Agter die skerms van hierdie opwindende reeks is Stephanus en Anzél Rabie asook hulle kameraspan vol entoesiastiese, kreatiewe jongmense.

“Die eerste twee episodes van die reeks word aanvanklik uitgesaai aangesien die pandemie al ons reisplanne gekelder het,” verduidelik Anzél. “Ons het dus nog net Ysland besoek, maar ek glo hierdie twee episodes gaan vir kykers ‘n goeie lusmaker wees vir dit wat nog kom.”

In die programme oor Ysland, ontmoet kykers Mia Cerfonteyn wat haar passie in die Arktiese sirkel volg. Die land en die laboratorium waar sy werk word verken en kykers sal meer oor klimaatsverandering leer en uitvind hoe hierdie Suid-Afrikaner in die koue oorleef. Mia is ‘n mariene bioloog en is besig met haar doktorsgraad by die Universiteit van Ysland. En sy het selfs haar kêrel in dié koue land ontmoet!

Die plan is om met die res van die reeks jong, avontuurlustige Suid-Afrikaners te stuur om ander jong, avontuurlustige Suid-Afrikaners te gaan soek wat hulle drome die wêreld vol najaag.

“Ons was veral op soek na mense in interessante lande en het Suid-Afrikaners opgespoor in lande soos Nepal, Sri Lanka en Georgië. Ons sien uit om die res van die reeks te vervaardig,” sê sy.

Die span is ook opsoek na borge om hierdie te verwesenlik en enige navrae kan gestuur word aan Martin Oberholzer.

Skakel in vir hierdie opwindende twee loodsepisodes. Dis ‘n avontuur wat julle nie wil misloop nie.

Ver in die wêreld is Donderdag 17 en 24 September om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).