Logo
web uni tv guide

Plan B

144Drama13 VL

’n Onweerstaanbare lusmaker vir Plan B

Nuus
06 Maart 2024
Kyk die lokprent vir die aksiebelaaide nuwe reeks!
Plan B

Aksie en drama. Humor en volbloed karakters. Karakters geskep deur die verbeelding van topverkoper-skrywer Deon Meyer en omskep in ’n draaiboek deur die Hertzogprys-wenner Tertius Kapp (Gaia, Dis ek, Anna, 4 Mure, Die spreeus). Jozua Malherbe (Bloedbroers, Vlees van my vlees, Devil’s Peak) is in die regisseurstoel en die vervaardigers – Scene 23 se Cobus van den Bergh en Tim Theron - is dieselfde span wat vir die rolprent Griekwastad verantwoordelik was. Op die koop toe is Arnold Vosloo weer in sy moedertaal te sien. Plan B is sonder twyfel ’n dramareeks enig in sy soort en die lokprent is maar net ’n klein voorsmakie van wat verwag kan word.



Plan B vertel in vyf aksiebelaaide episodes die verhaal van ’n man met ’n militêre agtergrond, Ivan Malan (Tim Theron), en sy vennoot Paul Schmidt (Arnold Vosloo), wat ’n bendebaas beroof en die “Vlammemeisie”, ’n skildery deur die meesterskilder Vermeer wat €30 miljoen werd is, steel. Intussen word Ragel Bergh (Amalia Uys) uit haar erfporsie deur die glyjakkals Joshua Lansky (Armand Aucamp) geswendel. Alles lyk vir haar verlore tot ’n kunswaardeerder haar en Ivan en Schmidt se paaie laat kruis en al drie dieselfde ding wil hê: die “Vlammemeisie”.

“Om weer in Suid-Afrika te werk, beteken ek is weer tussen my mense, in voeling met ’n taal en kultuur waarvoor ek lief is,” sê Arnold. “Afrikaans is die mooiste taal in die wêreld. Ek veronderstel een maal ’n boerseun, altyd ’n boerseun. Dan natuurlik om weer saam met Scene 23, die span van Griekwastad, te werk. Cobus, Tim en Jozua is soos my broers. Ons verstaan mekaar.”



“Om karakters wat reeds in die 1990’s deur Deon Meyer geskep is aan te pas vir 2024, is nie soseer ’n uitdaging nie, maar ’n geleentheid,” sê Tertius wat ook vir die draaiboek van Griekwastad verantwoordelik was. “Tegnologie het uit die aard van die saak drasties verander en as jy byvoorbeeld nou iemand probeer opspoor, sal jou eerste stop digitaal wees. Nog ’n geleentheid was om die tipe aksieheld van die 1990’s tong-in-die-kies te benader en die vrouekarakters, wat baie anders in die aksie-genre in die 1990’s was, ’n geleentheid te gee om te transformeer.”

“Die invalshoek vir Plan B was om ’n pretgevulde aksiereeks te maak,” sê Jozua. “Ons het van die begin gepraat van sonskyn en sjampanje; die idee dat ons reeks lig en lewendig moet wees.”

“Ons wou ook ’n stewige skeut nostalgie en onskuld inwerk soos aksiereekse van die 1970’s en 1980’s, reekse soos Magnum PI, Starsky and Hutch en Hawaii Five O. Dis reekse wat aksie en spanning het en ernstige sake aanspreek, maar altyd pret is om te kyk,” sê Cobus.



Plan B is in Kaapstad, Stellenbosch en omstreke verfilm en van die liggings wat gebruik is, slaan jou asem weg.

“Dit was van die begin af die plan om mooi mense, mooi huise, mooi karre en mooi oomblikke te verfilm,” sê Tim. “As jy met ’n helikopter oor Stellenbosch se wynlande vlieg, gaan daar ’n nuwe wêreld oop, een wat jy nie geweeg het bestaan nie. Jy gaan dan maar met jou hoed in die hand na die eienaars toe en smeek dat hulle vir ’n paar rand hulle huise sal gee om te gebruik.”

Arnold, wat al langer as 30 jaar in Amerika woon, sê hy praat minstens een keer per week met sy suster, Nadia, en sy ma, Joyce, maar erken sy Afrikaanse het verroes geraak. Dit het egter alles verander toe hy die rol in Griekwastad gekry het.



“Ek het in voorbereiding daagliks op RSG ingeskakel om elke dag Afrikaans te hoor,” sê hy. “Soms het ek gesukkel om op die regte Afrikaanse woord te kom, maar nou is ek weer een honderd persent in die saal.”

Plan B begin op 26 Maart om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.