Logo
Straat S1 Slim BB
web uni tv guide

Straat

144Drama13 VL

Tussen tonele met Amalia Uys

Nuus
13 Maart 2024
Na watter musiek luister Amalia Uys op pad werk toe en watter akteur het haar onlangs ‘n lewensles geleer? Ons vind uit!
Amalia Uys

Waar daar aksie en drama is, is Amalia Uys gewoonlik daar: Jy kry haar reg vir ‘n geveg in Die Byl (op Dinsdae op kykNET), Straat (op DStv Stream), en Plan B, wat binnekort op die kykNET-kassie gaan wees. Amalia Uys maak ook ‘n verskyning in die familiedrama, Summertide wat Sondae op Mnet te sien is.

Watter drie dinge pak jy in vir elke werksdag?

Ek dra my notaboek vir elke rol en karakter soos ’n Bybel by my, my tekste en ’n waterbottel. Die lekker ding met ons werk is dat elke departement oor die algemeen baie mooi na jou kyk, so jy moet net voorbereid opdaag en die res sal in plek val.

Ons het jou in verskeie DStv-flieks en reekse gesien. Watter rol was vir jou die mees opwindend?

Ek is regtig tot dusver baie lief vir al die karakters wat ek al gespeel het, maar ’n hoogtepunt vir my sover is definitief Jana Greyling in Desert Rose en Jo Verwey in Die Byl. Hulle al twee verteenwoordig argetipes wat sterk teenwoordig is in my psige: Jana, die wilde vrou wat in die woestyn uit die stof opstaan, en Jo, die atletiese, ernstiger vrou wat in stilte en taamlik geïsoleerd haarself oorgee aan haar werk.

Watter rol was die mees uitdagendste?

Die rol wat my sover die meeste gedruk het is wel nie ’n fliek of dramareeks nie.

Dis dié van Jessie in Mirre en Aalwyn, ’n plek spesifieke teaterstuk geskryf deur Nicola Hanekom, wat ook die regie behartig het. Ek moes paal dans en perdry in die toneelstuk en dit was baie swaar temas wat ons aangespreek het. Ek het ongelooflik hard daaraan gewerk en dit het deel geraak van my selle. Dis soms moeilik om jouself na so iets weer af te stof en aan te beweeg.

Het jy onlangs iets van 'n ander akteur op stel geleer?

Ek het onlangs saam met Arnold Vosloo op Plan B gewerk en dit was ’n fees!

Hy is só gevestig; hy het net ’n manier om terselfdertyd baie professioneel te wees, maar ook nie alles so ernstig op te vat nie. Hy’t my laat lag en my herinner om soms vir mysélf ook te lag. Ons mag dalk lewens verander met die stories wat ons vertel, maar ons is nie fisies besig om lewens te red nie!

Ek haal ook my hoed af vir enige akteur wat terwyl hulle besig is om toneel te speel nog hulle eie besighede bestuur of besig is om ander vaardighede in die bedryf te ontwikkel. Mense soos Milan Murry, Marvin-Lee Beukes, Armand Aucamp, Beer Adriaanse en Carla Smith. Die lys gaan aan. Ons het ’n ongelooflike sterk, hardwerkende, innoverende en veerkragtige bedryf.

Is daar 'n fliek of reeks op kykNET (of Showmax) wat jy gesien het en gedink het "ek sal nogal geniet het om daai rol te speel"?

[Die karakter] Fanie in Donkerbos. My dierbare en ongelooflike talentvolle vriendin Erica Wessels was wel, glo ek, nog altyd bestem om daai rol te vertolk en sy’t dit puik gedoen. 

Ek was mal oor die draaiboek en Nico Scheepers se styl en visie is net wêreldklas.

Ek sou natuurlik gespring het om Amber in Spinners te wees… maar nou ja, dit sou nie dieselfde gewees het nie! LOL but an adrenaline junkie can dream ;)

Watter lied luister jy na as jy 'n afdag het?

Ek het laasjaar na Mirre en Aalwyn en die ongeluk met die perd vir my ’n playlist gemaak wat ek elke dag in die kar op pad na Die byl stel geluister het. Dit was meestal upbeat, high energy liedjies wat my opgebeur het soos Lost van Frank OceanOlalla van Blanco White en omtrent alles van Stevie Nicks en Fleetwood MacGypsy is my all-time gunsteling!

Laastens, wat is jou motivering (sêding/ gesegde)?

Know thyself, want dit is ’n lewenslange, toegewyde en bewuste reis. Ook, my ma se drie d’s: Deernis, dapperheid en dankbaarheid.

Op Showmax kan jy Amalia Uys sien in die dramas Desert Rose, Nuus om 6, Rykie, Meisies wat fluit,en die roman-fliek Sy klink soos lente. Sy is ook te sien in die misdaaddrama Die byl op Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.