Logo
Diepe waters cast
web uni tv guide

Diepe Waters

144Drama13 VL

Vele skokkende oomblikke in jou gunsteling-sepies tydens Maart

Nuus
02 Maart 2023
Daar is nie ‘n tekort aan “snak-na-jou-asem-oomblikke” tydens Maart in jou gunsteling kykNET-sepies nie!
Suidooster

Suidooster

Met Dirk wat “uit die dood herrys” het en nooit noodlottig gewond was nie; word ou wonde vir Bianca en die Samsodiens oopgekrap. Dirk, wat sedertdien in ’n getuienisbeskermingsprogram was, het die polisie gehelp het om Quarter Master se orgaan-sindikaat aan die pen te laat ry, maar hy sukkel om homself te vergewe vir sy medepligtigheid en wend ’n poging aan om ook vergifnis by Bianca te soek.

Maar is dit ’n kwessie van vergewe en vergeet?  

Angie het hard gewerk om weer ’n goeie naam in Ruiterbosch te kry en haar en Wade se verhouding floreer. Na dinge vir Angie op die werksfront begin skeef loop het, en sy in sak en as daaroor is, is daar uiteindelik lig op die horison vir haar. Haar paaie kruis met die skatryk Lady Lillian Stuart, wie vir haar ’n werk as haar persoonlike  assistent aanbied. Maar Lillian het ’n verskuilde agenda, wat Angie se lewe onherroeplik kan verander. By JPD word almal onkant gevang met Bridgette wat Nazeem vra om ’n plan met ’n doring in die maatskappy se vlees te beraam.

Diepe waters

In Maart gaan die swembad in 'n donker maalkolk van geheime ontaard, wanneer meer as een individu se swemvlerkies begin pap raak... Dis nou of nooit vir die Swartmarlyne en hul mense, want party geheime kan 'n mens nie graf toe neem nie!

Pam maak dit baie duidelik dat sy in Jacques belangstel, en met haar visier sterk op die man ingestel is daar min wat sy nie sal kan doen of hanteer nie. Maar wat nou van Deedee? En wie is die ander persoon wat in die donker rondsluip om 'n happie van hierdie vleispaleis te kry?

Johan se keuses het hom al diep in die moeilikheid gekry. Arme Tshepo gaan dalk aan die pen ry vir van die keuses wat Johan gemaak het in die verlede, maar is daar dalk hoop vir die jongeling? Want Johan se nuutste keuse gaan skokgolwe deur die gemeenskap stuur, en dalk ook 'n nuwe vete veroorsaak. 

Sanet wil weer met mening haar houvas op Rossouw bevestig, veral wanneer sy begin dink dat haar man nie heeltemal getrou aan haar is nie. Sy kry raad van alle kante af om haar sinkende huweliksbootjie te red - en sy sien net een uitweg. Gaan haar plannetjies werk, of is daar 'n ooggetuie wat haar skip gaan kelder? Of het dit dalk te doen met die 'nuwe' vriend wat sy maak by een van haar AA-vergaderings?

Wanneer Bybie 'n BAIE groot geheim ontdek, word sy met haar eie geheime tot stilswye gedwing. Maar wat is haar grootste geheim op aarde - en wie is die een wat daardie stukkie inligting as 'n wapen teen haar gebruik? Die groter vraag is ook hoekom enige iemand nou juis vir Bybie wil afpers om haar mond oor iets te hou...

Meghan is nie so onskuldig soos wat sy lyk nie. Botter smelt beslis in hierdie enetjie se mond - veral wanneer sy haar hande EN haar hart betrokke raak. Is hierdie 'n nuwe Meghan wat te voorskyn kom, of is sy maar altyd nog dodelik giftig gewees? 

Binnelanders

’n Verkeerde diagnose lei tot ernstige self-twyfel en probleme in Zee en Danny se verhouding. Letitia Snyman daag op en slaan vir At uit die veld, en die Ongevalle-dokters moet regstaan ná ’n skietvoorval op die plaas. Annelize maak ’n bekentenis aan At, en Annetjie vind uit van die WAT se Borg-’n-Woord veldtog. 

Conrad maak ’n aanloklike aanbod aan At, en Elise is geskok wanneer sy uitvind Rian het vir Nina as projekbestuurder by Southern Hope aangestel. Karen is bekommerd oor Liam nadat hy homself beseer het, en die ja-woord word gevra… Annelize sukkel om haar gevoelens weg te steek, en Dawid nader Liam oor ’n moontlike aanbod. ’n Groot storm dreig om Pretoria, en Ongevalle raak heeltemal oorweldig…  

Arendsvlei

Hierdie maand in Arendsvlei, is dit net drama, drama en nogmaals drama! Van Yvette wat beroof word en die Cupido’s wat die skool moet red tot Saartjie en haar dwelmprobleem! Maar dis nog net die begin van die manewales in die Vlei. ’n Bekende lid van die gemeenskap maak vir die eerste keer sy verskyning na jare…

Yvette is steeds smoorverlief op JP en maak groot toekomsplanne met hom by haar sy. Sy het al haar vertroue in hom gesit en kom ons stel dit so, liefde was maar hierdie keer ook blind. Dis nie gou voor Yvette besef haar geld is gesteel nie en sy besef baie gou JP sit agter dit. Yvette se skuldgevoelens hang oor haar kop, want Hein het haar hoeveel keer gewaarsku, maar sy wou glad nie luister nie. Nou moet sy maar self die stukke optel. 

Net sodra Beatrice en Thys (dink hulle probleme met die skool is nou opgelos, vra Tilla’n dringende vergadering met al die aandeelhouers. Die Cupido’s het nie ’n idee wat op hulle wag nie en vra vir Tilla om hulle by die huis te kom sien. DIs dan wanneer die Cupido-familie hoor, hulle huurkontrak kom amper tot ’n einde en die raad het ’n onverwagse aanbod gekry van ’n maatskappy om die skoolgrond te koop, Daar is nie ’n manier dat die Cupido’s ’n teenaanbod kan maak nie, so wie gaan tot hul redding kom? Of verloor hulle die skool bietjie vir bietjie?

Saartjie is onder raaiselagtige omstandighede terug in die Vlei en haar ma, Bianca, probeer al dae uitvind wat rêrig met haar aangaan. Maar Saartjie weier om die waarheid te vertel. Toevallig kom Daniel terug na sy werksopdrag en hy en Saartjie raak weer nader aanmekaar. Hy is die eerste een wat uitvind van haar dwelmprobleem. Maar voor hy vir hulp kan vra, vind Daniel hom in die middel van die situasie en word beïnvloed deur Saartjie. Gaan Daniel probeer uitkom of het Saartjie se doen en late hom ingesluk?

Almal praat gewoonlik net van Desmond Galant en hoe gevaarlik hy is, maar ons het hom nog nooit gesien nie. Tot Petra se skok, is sy die eerste een wat hom sien en gaan waarsku vir almal. Hoekom is Desmond Galant in Arendsvlei en waar is sy vrou, Dorothy? Wat is besig om te gebeur dat Desmond Galant terug is? Moet almal vrees vir hulle lewe omdat sy seun, Bompie in die tronk is en hy wil wraak neem? 

Bly weeksaande ingeskakel op kykNET, kanaal 144 én kykNET&kie, kanaal 145 vir die heel beste vermaak. Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram.