Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

Veelsydige Melt en hoe Henk sy pad gekruis het – Fraksie

Nuus
08 November 2022
Die rol van Henk was glad nie beplan nie, vertel Melt: "Dit was ’n baie aangename verrassing."
Melt Sieberhagen

Melt Sieberhagen is nie iemand wat wag vir dinge om te gebeur nie en as daar nie werk in een rigting in die vermaakwêreld is nie, gaan soek – en kry – hy dit op ’n ander plek. 

Jy is een van die skrywers van die reeks en ook een van die hoofspelers. Wat het eerste gekom?

Beslis die skryf. Louis Pretorius en Albert Snyman het met die idee vorendag gekom en ek was gelukkig genoeg om deel van die skryfspan saam met Stephen Simm en Rosalind Butler, twee baie goeie skrywers met jare se ervaring, te wees. My skryfwerk neig gewoonlik na die minder ernstige kant toe, so dit was ’n lekker uitdaging en uitstekende leerskool om onder Louis se leiding aan die storie, karakters en intrige te timmer. 

Dit was aanvanklik die begin en die einde van my betrokkenheid, totdat ek heel aan die einde van die proses in Henk se rol beland het. Dit was glad nie beplan nie, so dit was ’n baie aangename verrassing. 



Hoe het julle skryfproses gewerk? Is dit soos in die movies wat almal om ’n tafel sit of kry julle elkeen ’n episode om te skryf?

’n Bietjie van beide, behalwe vir die “om ’n tafel”. Dit was ’n groot “working from home” oefening, maar ons Zoom-vergaderings het amper soos ’n baie gemoedelike kantoor begin voel, een waarheen jy uitgesien het om heen te gaan. 

So het ons die episodes beplan en dan elkeen aan ’n episode gaan skryf, ’n tweede draft gedoen en Louis het dan as hoofskrywer alles bymekaargebring, verkort, versterk, aangepas en reggeruk. Dit was ongelooflik om te sien hoe ons gesprekke in episodes verander en dan ook om te sien hoe dit alles bymekaarkom.



Hoe is die karakter Henk geskep?

Met die drie hoofkarakters (Schalk, Tim en Jana) wat van die begin af die spil was waarom die storie draai, het ons maar karakters geskep wat in hulle sfere sou beweeg en ’n invloed op hulle en die storie sal hê. Henk het soos die meeste van hulle amper uit nood ontstaan. Dis moeilik om die proses te verduidelik, maar soos ek genoem het: met so ’n klomp behendige skrywers, kon ek soms ook net toekyk hoe ’n karakter wat as ‘n one-liner in ’n vorige episode opgeduik het, weer en weer sy/haar verskryning maak en later ’n integrale deel van die intrige word.

Hoe het jy hom aangepak? En hoeveel van Melt is in Henk?

Tydens die skryfproses het ek dit nogal geniet om sommige van my swakste karaktereinskappe te oordryf en dan vir Henk te gee. Maar hy’s ook ’n karakter wat deur almal saam uitgebrei en lyf gegee is (metafories – ek het nie geweet dat ek later die fisiese lyf sou moes verskaf nie), so daar is ook baie ander aspekte aan hom wat heerlik was om te gaan soek.

Toe dit by die vertolking kom, het ek probeer om so min as moontlik van myself in Henk te sit, met die uitsondering van dit wat doelbewus deel gemaak is van die karakter toe ons hom geskryf het. 

So, dit was nogal ’n interessante proses. Henk is maar net Henk. En soms kan hy nogal té Henk wees. Om Henk laat Henk, eerder as hom te laat Melt, was seker die grootste uitdaging. (Om hierdie vraag te beantwoord, was amper die tweede grootste een.)

Die lewe van ’n akteur in Suid-Afrika is nie altyd maklik nie, maar jy het die oor die jare reggekry om verskeie “rolle” te speel. Wat doen jy alles om die pot aan die kook te hou?

Ná my studies het ek in ’n produksiekantoor as navorser beland en na ’n paar jaar was ek ’n insetselregisseur. Te danke aan daardie tyd het ’n nogal ’n skill set wat gereeld baie handig te pas kom. 

Ek doen nou en dan nog steeds ’n bietjie regie, maar ek’s gelukkig genoeg om aan die uitvoerende kant deesdae baie besig te wees as akteur (onbeplan, maar welkom). Ek doen ook stemwerk (van oudioboeke tot advertensies), skryf tekste vir joernaal/dokumentêre programme, skryf advertensiekopie en het al alles van advertensies tot romans tot draaiboeke vertaal.

Ek doen natuurlik ook nog steeds stand-up as die geleentheid hom voordoen. 

Ek doen enigiets. Wat het jy nodig en hoe lyk jou budget?

Wie sien jy as jou akteur-mentors?

Sjoe. Dis nogal ’n moeilike ene. Ek’t my heel eerste dag op ’n televisiestel vir Elize Cawood ontmoet. Van daardie dag af kon ek my net vergaap aan alles wat sy doen, asook hóé sy dit doen. Sy was net ongelooflik en elke kans om saam met haar te werk was onbeskryflik waardevol. Dan is daar natuurlik ook my dosente by Tuks se dramadepartement soos Pieter Brand, Johannes Visser en Carel Trichardt wat ’n ongelooflik belangrike rol gespeel het in my bewuswording van wat dit beteken om ’n akteur te wees. 

Watter internasionale akteurs se werk het jy die grootste waardering voor? En as iemand eendag die rol van Melt Sieberhagen moet speel, wie moet dit wees?

Ek’t seker maar ’n ding vir komediante wat ernstige rolle aanpak, want Robin Williams, Jim Carrey en Ricky Gervais se name duik dadelik by my op, maar dan is daar ook Javier Bardem, Christoph Waltz, Rachel Brosnahan en Engelse reuse soos Judy Dench, Ian McKellan en daai hele tempel legendes. 

As iemand my moet speel, sal ek graag net die kans wou hê om self te oudisie. Ek dink ek kan dit nogal nail. Anders seker maar Jonah Hill. Of Meryl Streep. Daai vrou kan enigiets doen.

Fraksie se sterk rolverdeling is indrukwekkend. Maak dit dit makliker of meer uitdagend?

’n Bietjie van beide, sou ek sê. Dit is nogal intimiderend, maar ek dink dit bring die beste in ’n mens uit as jy teenoor sulke goeie akteurs speel. En op Fraksie was hulle orals!

Wat is die planne vir die res van die jaar?

Dit was ’n besige jaar, maar dis nog nie klaar nie. Daar is nog ’n rolprent wat voorlê, ’n paar lekker stand-up gigs en wie weet wat nog! In hierdie bedryf is niks ooit voorspelbaar nie. 

Wat is jou droom vir 2023?

Ek en my verloofde, Maryke Nel, trou in Maart, en op hierdie stadium is dit nogal die hooffokus vir 2023. Vir die res van die jaar sou ek baie gelukkig wees as hierdie jaar se momentum behou kan word. Seker nie te veel gevra nie?

Fraksie word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.