Logo

Varsity Sing: Kaartjies vir halfeindrondes nou beskikbaar

Nuus
15 Augustus 2016
Moenie die geleentheid misloop om deel van die gehoor vir die halfeindronde te wees wanneer geskiedenis in die eerste seisoen van Varsity Sing gemaak word nie.
Varsity Sports verkoop sedert Vrydag kaartjies na die Varsity Sing-halfeindrondes aan die publiek.

Donderdagaand, 11 Augustus, is die laaste twee kore van die vier semi-finaliste vir die Kaapstadse halfeindronde op 14 September aangewys toe NMMU en Rhodes Universiteit deurgedring het. Die kore van UWK, Maties, Rhodes en NMMU sal op 14 September in die Hugo Lambrecht Musieksentrum meeding vir ’n plek in die Varsity Sing-eindstryd.

Slegs twee van hierdie kore sal deurdring na die Varsity Sing-eindronde, waar hulle sal aansluit by die twee topkore uit die ander halfeindronde, wat op 6 September in die Linder Ouditorium, Johannesburg, plaasvind.

Hoewel dit nog nie seker is watter vier kore in hierdie Johannesburgse halfeindronde gaan meeding nie, is kaartjies na dié halfeindronde ook reeds te koop.

Kaartjies kos R20 en kan aangeskaf word deur die Varsity Sports-toepassing (app) wat verniet afgelaai kan word van die Google Play- en Apple App-winkels, of deur hier te klik.

Daar is ’n beperkte aantal sitplekke beskikbaar vir elke halfeindronde – sitplekke wat na verwagting sal verkoop teen snelhede wat weer die medulla oblongata uit Emo Adams se kop gaan blaas.

Moet dus nie die geleentheid misloop om deel van die gehoor vir die halfeindronde te wees wanneer geskiedenis in die eerste seisoen van Varsity Sing gemaak word nie.

Vir eksklusiewe Varsity Sing-inhoud, klik hier.