Logo
web uni tv guide

Tydelik Terminaal

144Drama13L

Tydelik Terminaal eersdaags op kykNET

Nuus
27 Augustus 2019
Vind meer uit.
Tydelik Terminaal

Tydelik Terminaal is ’n 13-episode ligte dramareeks wat handel oor hoe ’n twee-en-twintig jarige honneursstudent, Kittie Claassen, die lewe navigate ná sy met kanker gediagnoseer word. Dis “die beste kanker om te kry”, soos Dokter Pillay haar verseker. Kortom is dit ses maande se hel, en dan weer life as usual. Die probleem is dat dit haar honneursjaar is, en ’n kinkel in haar akademiese kabel gaan beteken dat sy haar toekomsdrome van Pulitzer-prys bekroonde joernalistiek moet uitstel as gevolg van Hodgkin en sy ontydige siekte.

Die reeks speel af oor die ses maande waartydens sy chemoterapie ondergaan, besties raak met die oues van dae, haar studies probeer voltooi, en boonop onverwagse lewenservaring en -wysheid opdoen.

Kittie en haar twee beste vriende, Mandy en Fanie, bevind hulleself in daardie deurmekaar tussen-fase van die lewe voor jy die sogenaamde grootmenswêreld betree. Dis ’n tyd van kindwees agterlaat, maar steeds pret hê; somber beplan vir ’n toekoms, maar uiters onseker wees van hoe daardie toekoms gaan lyk.

In hierdie drukgang van volwassewording, word elk van hierdie karakters met hulle eie mensewees gekonfronteer en staan hulle voor die vraag van wie hulle nou eintlik is.

Tydelik Terminaal put inspirasie uit die skepper van die reeks, Elanie Rupping, se eie stryd teen kanker. “Ek het geleer dat die lewe se swaarkry en beproewinge soms ook sy grootste geskenke is, omdat dit ons die empatie gee waardeur ons met mense kan connect. Die beste manier hoe ek dit kan doen, is deur middel van stories. Daarom het ek een van die swaarste goed wat nog ooit met my gebeur het as voertuig gebruik om mense, hopelik, te laat voel dat hulle nie alleen is nie. Dat dit ’n gedeelde ervaring is en dat daar altyd hoop is.”

Etienne Fourie behartig grootliks die regie van die reeks. “As ek terug dink aan die verfilming van Tydelik Terminaal, is dit vir my ’n advertensie-tipe montage, ’n blur van Johannesburg (ek het vir tien weke daar gewoon om die reeks te verfilm), Carla Smith se lag en die reuk van die hospitaal waar ons baie van die tonele verfilm het. Dit was ’n moeilike maar vervullende, onvergeetlike ervaring. Ek kan nie wag dat gehore Tydelik Terminaal kan sien nie. Dit is ’n belangrike – maar tog kleurvolle – en opregte storie met karakters wat die meeste van ons sal herken. Dit spreek ’n reeks ernstige kwessies aan, maar met deernis en humor. Loki Rothman se musiek is iets wat my oor die algemeen opgewonde maak, maar om dit in die reeks te hê, om dit in die konteks van die reeks te sien, is besonders lekker vir my. Ek kan nie wag dat mense dit hoor nie."

Carla Smith, wat die rol van Kittie vertolk, is ’n bekende teateraktrise, wat al te sien was in Altaar, Die maan val bewusteloos, Sewe Deugde, nee minder en Fiela se Kind. Sy het ook al ’n gasrol vertolk in die sepie, Binnelanders.

Eve Nthabiseng Rasimeni en Hendrik Nieuwoudt vertolk die rolle van Kittie se beste vriende, Mandy en Fanie. Eve is veral bekend vir haar rolle in reekse, soos Isibaya, Rhythm City, Dwaalster en Suidooster. Hendrik se teaterrolle sluit in Made you look, Raponsie en Hoekom is die badkamer vloer nat. Hy was ook al te sien in die kortfilm, Kloof.

Bekendes wat ook in Tydelik Terminaal te sien is, sluit in Anna-Mart van der Merwe en Frank Opperman as Julie en oom Len. Oom Len het prostaatkanker – Julie, sy busy body-vrou wat hom (en later vir Kittie) in die stryd teen kanker bystaan.

Almar Müller is te sien in die rol van Joubert, ’n ou liefde wat weer vir Kittie ’n steunpilaar wil wees, Arno Greeff as Drikus, die aantreklike jong LLB student wat Mandy aanhoudend uitdaag, en Ruan Blum is Louis, Fanie se kêrel van die Kaap.

Kyk ook uit vir verskynings deur Anel Alexander, Zane Meas, Stiaan Smith, Francois Jacobs, Tiffany Barbuzano, Jack Devnarain, Reginah Dube, David Reese en Henriëtta Gryffenberg.

Nouvanaand Films vervaardig Tydelik Terminaal. “Ons is opgewonde om weer die geleentheid te kon kry om ’n ligte drama vir kykNET te vervaardig. Onder die innoverende regie van Etienne Fourie en Elanie Rupping, bied Tydelik Terminaal ’n vars blik op die ongewone ervaringe van ’n 22-jarige jong meisie op die drumpel van haar ‘grootmens’-lewe. Met ’n vars uitkyk oor studentwees en ongemaklike identiteitsvrae, lei Tydelik Terminaal die kyker deur Kittie se chemoterapie-reis na fisieke genesing asook emosionele bevryding.’

Tydelik Terminaal word Woensdae om 20:00 vanaf 30 Oktober op kykNET DStv-kanaal 144 uitgesaai. Deel die goeie nuus met jou vriende op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #TydelikTerminaal.