Logo

Tussen tonele met Bennie Fourie

Nuus
14 Mei 2024
Bennie Fourie deel meer oor sy gunsteling-karakters; hoe hy elke dag met ’n positiewe ingesteldheid aanpak en meer!
Bennie Fourie

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?

My stel-experience, as ek ’n akteur is, vat ek so min as moontlik. Jy gaan sommer in baie eenvoudige klere want jy gaan dit nooit aanhê nie. Ek vat net my iPad hoofsaaklik – ek leer al my woorde op my iPad en as ek direct is die hele teks op my iPad. Ek kan nie rondsit en niks doen nie. As ek tussen scenes is, is ek hard aan die werk aan goeters. Ek’s ’n bietjie van ’n fokus-hond. So ja, dis maar wat ek stel toe vat; en natuurlik ’n foto van Mila.


Indien jy kan, watter een van die karakters wat jy al vertolk het was jou gunsteling en hoekom? 

Dit klink nou weird omdat dit alles shows is wat ek self geskryf het, maar dis Dodgy Mike (Hotel) en Goose van Taktiek.

Dodgy Mike was hierdie dude wat net enigiets sou doen om geld te maak, enigiets sal doen om ’n deal te kry, so dis net so flippen lekker karakter en omdat ons dit geskryf het en direct het weet ek dat die vryheid wat jy het om te speel is soveel soos wat jy jouself sal toelaat, so dit was lekker met Dodgy Mike.

Ek het net Goose gelove omdat hy ’n lekker polisieman is en heavy insecure met homself is en ook glad nie weet hoe om goed te wees met meisies nie.



Dan ’n karakter wat iemand anders geskryf het was Daniël in Ander mens wat net vir my ’n lekker challenge was. Ek het mos maar bietjie oorgewig geword vir die rol, so jy voel so ongemaklik met jouself dat jy letterlik voel soos ’n ander mens. Dit was ook net great om saam met Quentin Krog te werk.

Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom? 

Ek het met Christiaan Olwagen gewerk op Recipes for love & murder en daarso het ek die rol gespeel van Burger: Hy’t sy vrou geslaan en hy was ’n verdagte vir haar moord ook gewees, wat hy op die ou einde van die dag nie gepleeg het nie.

Dit was net baie uitdagend want ek het baie respek vir Christiaan se werk en as jy met ’n regisseur te doen het wat jy nie wil teleurstel nie; en dan is dit nog bo my vuurmaak plek in terme van dis nie ’n komedie nie; dis nogal ’n redelike erge drama wat ek nie baie die geleentheid kry om te speel nie. Dit was vir my baie uitdagend, maar ook baie satisfying op die ou einde van die dag, so ja, dit het my bietjie ge-challenge en buite my comfort zone gegaan.

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur/ persoon op stel wat jou geïnspireer het? 

Ek sou sê daar is al ’n paar  mense wat my geïnspireer het regdeur my loopbaan, maar as ek nou in my onmiddellike omgewing moet dink – Ek het onlangs ’n kortfilm gemaak vir kykNET se Silwerskermfees en Albert Pretorius het die lead gespeel en dit was net so lekker om met Albert te werk in die sin dat ek regtig net gesien het hoe hy nie keuses vooraf maak en net stick by dit nie:  Hy laat homself toe om binne ’n scene net enige kant toe te gaan en wat ook al gebeur en wat hy voel gebeur, laat hy toe om te gebeur en dis nogal incredible om te sien wat uitkom as jy net jouself toelaat om uit jou eie pad uit te kom, nie te veel te oordink nie en net letterlik in die oomblik te wees.

Dan ’n persoon na wie ek verskriklik opkyk is Desiré Gardner en ek is die laaste ruk net weggeblaas met haar skryfstyl, hoe ongelooflik op haar voete sy is en hoe goed sy luister. Sy’s ’n ongelooflike aktrise wat regtig sterk, sterk improv skills het en met improv skills bedoel ek jy’s altyd in die oomblik, altyd besig om te luister.



Dan ’n persoon vir wie ek verskriklik baie respek het, nie net omdat sy my vrou is nie, is Mila. Sy werk vrek hard en sy sit haar alles in met oudisies en sy grind nogal. Sy het nog altyd net gegaan: Dis wat sy wil doen, sy trust haar gut en sy inspireer my elke dag met haar dryf om aan te hou speel en interessante goeters en rolle te soek. Sy’s net ’n joy om rondom te wees en die manier hoe sy ’n stel kan verlig is incredible.

Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag? 

Ek het  nie een persoon saam met wie ek graag nog wil werk nie, daar is baie persone saam met wie ek nog weer aanhou wil werk. Ek het die voorreg gehad om al saam met baie mense te kon speel, al is dit net in ’n klein skets of stukkie. Ons het regtig ’n magdom van ongelooflike talent in ons land en om net aan te hou met klomp projekte en geleenthede te kry om net aan te hou speel is vir my die ding.

Ek dink maybe een groot naam wat ek nog altyd gehoop het om mee te doen kan kry is Marius Weyers, maar dit klink asof hy nie meer speel op die stadium nie, so daai skip het geseil. Ek dink hy’s ’n fenomenale akteur en hy’t soveel gravitas en enige iemand wat komedie en ernstig speel het ek baie respek voor.

Pelle en vriende wat ons al gemaak het met wie ek wil aanhou werk is, is verskriklik lekker. Ouens soos Bouwer Bosch, Schalk Bezuidenhout, Beer Adriaanse, Stiaan Smith, net om ’n paar te noem. Daar is klomp pelle met wie ons baie goeie memories het en baie mee al geskep het met wie ek net sal wil aanhou werk, maar daar is te veel name om te noem.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel? 

Ek dink vroeër sou ek nogal ’n groter betrokkenheid in Fynskrif wou gehad het omdat ek ’n regsgraad het en ek was baie jaloers op die ouens in Fynskrif aanvanklik en toe het ek in die latere seisoen ’n staatsaanklaer gespeel en toe is dit blerrie lekker. So daarso het ek gedink sal dit vir my nogal lekker wees om proper off-scenes en so te hê, maar in alle eerlikheid – ek love komedie en dis my roeping. Ek love om betrokke te wees by enigiets wat snaaks en komies is en ek love dit om daaraan te werk om net beter en snaakser te probeer maak. Verder kan ek nie dink aan nog enigiets waarin ek sou wou speel nie. Net definitief Fynskrif om daardie regsgraad van my verder te justify.



Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

Bekommernis is soos ’n wiegstoel, dit hou jou besig, maar dit bring jou nêrens. Ek lewe nogal by daai in die sin dat jy kan bekommer, en ek bekommer baie, maar ek vat dit dag-vir-dag so ek love dit om net neer te skryf.  Die funnyste ding is; jy dink jy’s oorweldig, alles is deurmekaar, als is bietjie van ’n f-op, maar as jy gaan uitzoom en jy skryf neer wat dit is wat jou pla dan is dit eintlik nogal min goed. En, ek het die laaste ruk vandat my persoonlike lewe mooi aan die tree gekom het en ek en Mila getroud is en ons bly saam in ’n huis en ons het ’n hond, is dit baie maklik om ’n moeilike dag agter die rug te sit want jy kom terug na wat belangrik is en in ’n mate het ek agtergekom ek is baie passievol oor hierdie bedryf, maar ek is heel eerste nou ’n man vir Mila en ek het ’n persoonlike verhouding by die huis wat ek wil in operate so dis baie maklik om al die stres agter te laat as dit lekker is by die huis.

Verder as dit is ek ’n groot voorstander van om te bid en ek en Mila bid graag saam en veral as ons bedruk is of enigiets op ons harte is dan bid ons en ons vra vir die Here om ons eintlik net fokus te gee en uit te zoom en te sien wat belangrik is en dan is al jou probleme skielik baie klein.

Wat is jou motto in die lewe? 

Ek het nie ’n spesifieke motto nie, maar daar is ’n paar dinge waarvolgens ek lewe: Daar is nie probleme nie, daar is net oplossings. Mense kan enige ding oplos en ek dink ook ’n groot ding wat ek in glo is enige iemand kan enigiets doen. Ons is grootgemaak om te droom dat enige droom wat jy het kan jy bereik as jy hard genoeg werk so ek’s 100% positief in daardie opsig dat mense enigiets kan doen wat jy jou mind toe set. Ek love dit om te skryf, love dit om idees uit te dink ens., so ek voel so half if you can dream it you can achieve it basically. Dit klink ’n bietjie weird, maar ons is nogal met ’n positiewe mindset grootgemaak en dis lekker. Bekommernis is soos ’n wiegstoel, soos ek sê, en dit bring jou nêrens nie.

Stroom Hotel, Magda Louw, Fynskrif en veel meer op DStv Stream sowel as Showmax!