Logo

Eksklusiewe voorskou: Tot Tyd en Wyl

Nuus
08 Desember 2016
kykNET bederf kykers vanaf 9 Januarie met ’n splinternuwe sepie! Lees meer hier.
Tot Tyd en Wyl Bumper

kykNET bederf kykers vanaf 9 Januarie 2017 met ’n splinternuwe sepie! Twee van kykNET se groot sepie-akteurs, Ramey Short en Lindie Stander, gaan te sien wees in Tot Tyd en Wyl, met Elzabé Zietsman wat terugkeer na die sepiewêreld vir die eerste keer sedert Egoli: Plek van Goud.

Bekende akteurs Anel Alexander, Pierre Breytenbach, Anrich Herbst en Ruan Wessels maak ook deel uit van die rolverdeling.

Meer oor Tot Tyd en Wyl


Uit die pen van die bobaas-sepieskrywer en multi-genomineerde Louise van der Linde, en die uitvoerende vervaardiger Boet Kruger, is daar ’n splinternuwe sepie wat eksklusief op kykNET begin in Januarie 2017, wat kykers na hul asems gaan laat snak, sneesdoekies gryp, en hartpille versamel.

Tot Tyd en Wyl is die saga van die uiteenlopende en skatryk familie van die landgoed ‘Groot Pardenfleur’, waar die matriarg Marjorie (Elzabé Zietsman) die septer swaai, en haar vurige rooikop-dogter Diaan (Anel Alexander) die katelknapies versamel soos ’n stoet hings.

Diaan is getroud met die smeulende Adam (Ramey Short), wat beslis ’n dwalende oog het en ’n los broek dra. Maak jouself gereed vir ’n groot gejuig wanneer hierdie familie se geheime een vir een op die skerm bloots gery word!


Die aap is uit die mou:


Tot Tyd en Wyl, die sepie vol melodrama wat op ons platforms geadverteer is, gaan nie werklik op kykNET uitgesaai word nie! Kykers kan eerder uitsien na Seepglad, ’n komedie wat handel oor ’n skrywerspan van ’n TV-sepie, wat op 9 Januarie om 21:00 op kanaal 144 begin.