Logo
web uni tv guide

Top 30 Proteas: In Samewerking Met...

144SportPG13

"Top-30-Proteas in samewerking met Rapport" vier ons grootste kriekethelde

Nuus
03 November 2023
Die top-30-Proteas word reeds sedert 2022 elke Sondag, een vir een, in Rapport aangekondig, en nou is dit vir die kleinskerm verpak.
Top 30 proteas rapport article image

Dit is al meer as 30 jaar sedert die Proteas se hertoetrede tot internasionale krieket, en met die Krieketwêreldbekertoernooi wat tans in Indië plaasvind, het Rapport besluit om met die hulp van ’n uitgelese paneel die 30 beste Proteas sedert Suid-Afrika se hertoetrede tot die wêreldarena te kies. 

 

In Top-30-Proteas in samewerking met Rapport, wat Sondag 5 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, sal daar hulde gebring word aan hierdie ikone. In elkeen van die uur lange episodes sal gekyk word na tien Protea-krieketspelers se loopbane. Daar is drie episodes in die reeks.

 

Die top-30 is: Jean-Paul “JP” Dumont 29. Keshav Atmanand Maharaj 28. Kepler Christoffel Wessels 27. Petrus Stephanus “Fanie” de Villiers 26. Brian Mervin McMillan 25. Anrich Arno Nortje 24. Paul Regan Adams 23. Mohammad Imran Tahir 22. Morné Morkel 21. Daryll John Cullinan 20. David Andrew Miller 19. Ashwell Gavin Prince 18. Jonathan Neil “Jonty” Rhodes 17. Wessel Johannes “Hansie” Cronje 16. Mark Verdon Boucher 15. Lance Klusener 14. Gary Kirsten 13. François “Faf” du Plessis 12. Quinton de Kock 11. Vernon Darryl Philander 10. Makhaya Ntini 9. Herschelle Herman Gibbs 8. Kagiso Rabada 7. Shaun Maclean Pollock 6. Allan Anthony Donald 5. Graeme Craig Smith 4. Hashim Mohammad Amla 3. Dale Willem Steyn 2. Abraham Benjamin “AB” de Villiers 1. Jacques Henry Kallis.

 

In die eerste episode sal nommers 30 tot 21 aan die beurt wees.

 

Rapport het ’n uitgelese paneel saamgestel om ons top-30-Proteas te kies. Dit sluit in twee huidige KSA-spanafrigters, Shukri Conrad en Rob Walter, voormalige afrigter van die Proteas, Australië en Pakistan, Mickey Arthur, asook die voormalige waarnemende Protea-afrigter Malibongwe Maketa,” sê Dawie Boonzaaier, medesameroeper van die paneel saam met Tinus van Staden, Rapport se sportredakteur. 

 

Dié drie episodes is in 2023 deur Relish Media vervaardig, wat ook vir die sportprogram Toks & Tjops verantwoordelik is. 

 

Volgens die uitvoerende vervaardiger van die reeks, Liebie Opperman van Relish Media, was hierdie ’n goedvoelprojek vir hom en sy span: “Sedert ons die Top-30-Bokke in 2022 vervaardig het en nou die Top-30-Proteas vir kykNET, is dit fantasties om te sien hoe sport en sy legendes die landskap van ons samelewing help verander het en ons as nasie nader aan mekaar bring. Dit was fantasties om die topspelers te ontmoet en beter te leer ken. Beslis ‘n hoogtepunt van my loopbaan.”

 

Die res van die paneel sluit in André Odendaal, Aslam Khota, Bokkie Gerber, Brett Proctor, Colin Bryden, Dace Nosworthy, Fanie Heyns, Firdose Moonda, Henry Davids, Hussein Manack, Jacques Faul, Jeremy Fredericks, Jono Leaf-Wright, Karen Smithies, Ken Borland, Luke Alfred, Marais Erasmus, Neil Manthorp, Patrick Moroney, Pierre de Bruyn, Stuart Hess en Telford Vice.

 

Die top-30-Proteas word reeds sedert 2022 elke Sondag, een vir een, in Rapport aangekondig, en nou is dit vir die kleinskerm verpak. 

 

Top-30-Proteas in samewerking met Rapport begin Sondag 5 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook via DStv Stream gestroom kan word en beskikbaar wees op DStv Catch Up ná elke uitsending.