Logo
in frans ja banner
web uni tv guide

In Frans Ja

144ReisprogramPG13 L

Vat die spoor van die Wêreldbeker met Vanes-Mari en Hamilton – In Frans, ja!

Nuus
11 Augustus 2023
Vanes-Mari du Toit en Hamilton Wessels gaan vanjaar die Bokke vanaf Marseille na Bordeaux in Frankryk volg.
Vanes-Mari du Toit en Hamilton Wessels

Is jy ook jaloers op almal wat die 2023 Rugby Wêreldbeker in Frankryk gaan kyk terwyl jy soos kiepie by die huis moet sit? Dan het kykNET wonderlike nuus vir jou. Vanes-Mari du Toit en Hamilton Wessels gaan wéér die Bokke al die pad Wêreldbeker toe volg en vir jou ’n onvergeetlike rugbyreis gee in hul nuwe reeks, In Frans, ja!, wat op 9 September om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin.

In 2019 het Vanes-Mari en Hamilton die Bokke gaan ondersteun in Japan, die fassinerende kultuur leer ken en ’n hele rits merkwaardige mense ontmoet. In Frans, ja! is selfs meer opwindend, want nou het die Bokke die kans om die trofee vir ’n vierde keer huis toe te bring.

Die Wêreldbeker skop af op 8 September 2023. Dit is dus tyd vir Hammie, soos sy vriende hom ken, en Vanes om hulle paspoorte af te stof, hul 15de booster shot elk te kry en die pad Frankryk toe te vat om jou op ’n groot Afri-Franse avontuur te neem.

In Frankryk is daar natuurlik baie bo en behalwe opwindende rugby om te geniet: wêreldberoemde wyne en kulinêre fynproewersplesiere, haute couture, kunsskatte en van die beste strande op aarde.

Vanes sê dat Japan fun was, maar Frankryk gaan FUNTASTIC wees: “Ons sien uit om alles te doen, te eet en te sien wat die land van die Hane te bied het.”

Dié twee gaan die Bokke vanaf Marseille na Bordeaux volg, waar hulle tussendeur bietjie gaan wynproe en hul hand aan muurkuns gaan waag. Daarna kyk hulle saam met die oud-Bok Flip van der Merwe in Biarritz die Bokke se wedstryd teen Ierland. Dan is dit tyd vir ’n jolige rugby-bootreis met ander Suid-Afrikaners. En as alles goed afloop, sal Hammie en Vanes hopelik wéér sien hoe die Bokke die Webb Ellis-trofee lig – dié keer in Parys.

Hammie sê as jy gedink het In Japan, ja! was ’n avontuur, dan het kykers geen idee wat voorlê nie, want hy en Vanes gaan die Franse en al die ander lande se rugby-ondersteuners wys hoe word dit by ’n Wêreldbeker gedoen.

“Japan sal nooit weer dieselfde wees nadat ek en Vanes dit met die vorige Wêreldbeker op horings geneem het nie. Die Franse gaan ook nie weet wat hulle getref het nie. Ons beplan om hulle in ongeloof agter te laat en natuurlik met die William Webb Ellis-trofee aan ons sy,” sê Hammie uitgelate.

Ons dink Hammie wil eintlik net die Webb Ellis-trofee wat hy “per ongeluk” in Japan gesteel het, wéér vir ’n slag omhoog hou. Ons sal maar moet wag, duime vashou en sien.

  • In Frans, Ja! word vanaf 9 September 2023 elke Saterdagaand om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks sal ook op Catch Up beskikbaar wees.