Logo

Temalied van bekroonde rolprent ‘Barakat’ beskikbaar 30 April

Nuus
28 April 2021
‘Barakat’ is die eerste Suid-Afrikaanse Moslem rolprent wat vervaardig is in die dialek ‘Afrikaaps’, wat eie is aan die Kaap.
Barakat BB

Dit reik 13 Mei landswyd uit by uitgesoekte rolprentteaters.   Die rolprent vertel die storie van ’n matriarg wat beoog om haar disfunksionele gesin bymekaar te bring oor Eid-al-Fit.

Die temalied, getiteld ‘Come Through', sal wêreldwyd op aanlynplatforms uitreik op 30 April 2021. Van die Kaap se talentvolste kunstenaars kan gehoor word, wat insluit  Loukmaan Adams, Keeno-Lee Hector, and Madeegha Anders.  Die lied is gekomponeer deur Benjamin William Jephta en Ndumiso Manana. Die lirieke is geskryf deur Ndumiso Manana en die produksie en verwerking is behartig deur Benjamin William Jephta.

Barakat, ’n Arabiese woord wat “seën” beteken, is ’n storie oor die viering van die lewe, kultuur en die belangrikheid van familie – saam met wie ’n mens enigiets in die lewe te bowe kan kom.

Die prent vertel die storie van Ayesha Davids (Vinette Ebrahim), ’n weduwee wat te alle koste die vrede tussen haar vier seuns (gespeel deur Joey Rasdien, Mortimer Williams, Keeno-Lee Hector en Danny Ross) wil bewaar nadat hulle sukkel om die dood van hulle pa twee jaar lede, te verwerk. Zunaid, Zaid, Yaseen en Nur keer na die familiewoning terug om Eid-ul-Fitr of Labarang, soos wat dit in Kaapstad genoem word, te vier – ’n viering wat die einde van die maandlange Ramadan beteken. Hulle het egter nog nie regtig die leemte wat hul pa se dood veroorsaak het, verwerk nie. Elke seun se onverwerkte pyn kom die duidelikste tot uiting in hoe hulle aanhoudend met mekaar baklei, wat hulle ma hartseer stem omdat sy probeer om met haar eie lewe aan te gaan. Die rolverdeling sluit ook Quanita Adams, Bonnie Mbuli, Leslie Fong en June van Merch in.

Barakat het internasionaal opspraak gemaak en verskeie toekennings by internasionale feeste gewen, onder meer:

Die Reel Sisters of The Diaspora Festival (Brooklyn, New York) Beste narratief vir ’n hoofprent; Motion Pictures International Film Fest 2020 (rondreisende filmfees gehou in Salt Lake City in 2020) Beste redigering; Beste produksie; Idyllwild International Festival of Cinema (Idyllwild, Kalifornië) Mary Austin-toekenning vir Uitnemendheid van Regie, Beste ensemble-rolverdeling, Beste internasionale rolprent, Beste ondersteunende akteur, Naaswenner – beste oorspronklike Musiek.

Die draaiboek is deur Amy Jephta en Ephraim Gordon geskryf. Hulle het hul debuut by die 2017-kykNET Silwerskerm-fees in Kampsbaai met hulle kortfilm, Soldier gemaak, waarvoor hulle toekennings vir die beste draaiboek en die beste kortfilm gewen het.

Barakat reik 13 Mei landswyd uit by uitgesoekte fliekteaters.

Indigenous Film Distribution
Facebook: Barakat The Movie
Instagram: @barakatmovie
Twitter: #BarakatMovie