kyknet channel logo

Tas bring hulde aan Cash

Nuus18 Junie 2015
“Aan Johnny: dankie vir die songs, my bra. My lewe sou ’n baie leë plek gewees het sonder jou musiek.”
Adam Tas cover Cash

Adam Tas is “grootgemaak op Ouma Rusks, Oros en Johnny Cash”. Bykans 12 jaar nadat die legendariese “man in swart” die tydelike met die ewige verwissel het, lewer Tas ’n treffende huldeblyk aan een van sy grootste musikale inspirasies.

Cash was bekend vir sy diep, maar ook lighartige en selfs skertsende lirieke, wat met ’n rock-inslag en unieke perkussiewe styl miljoene aanhangers regoor die wêreld verwerf het. Tas vang die kern hiervan vas met 14 weergawes van Cash se treffers.

Snitte soos “God’s gonna cut you down”, “Ghost riders in the sky”, “The man comes around”, “One piece at a time”, “A boy named Sue” en “I won’t back down” smelt moeiteloos met Tas se rasperstem, warm instrumentele klanke en ryk agtergrondsang saam. Twee ekstra snitte sluit hulle by die 14 aan in die vorm van die “Johnny Cash Medley” – met “I walk the line”, “Folsom Prison blues” en “Ring of fire” – en “’n Tas vol Cash” – Tas se briljante Afrikaanse nuutskepping wat ritmies resoneer met Cash-inspirasie.

“Johnny het in sy lewe baie musiek geskryf, maar ook net soveel musiek van ander gesing en sodoende die songs op sy
manier sy eie gemaak,” sê Tas. “Musiek van Dylan, Nine Inch Nails, ensovoorts, het my in ’n mate meer geraak toe ek die Cash-weergawes gehoor het,” sê hy. “Aan Johnny: dankie vir die songs, my bra. My lewe sou ’n
baie leë plek gewees het sonder jou musiek.”

’n Tas vol Cash is nou landswyd beskikbaar.