Logo
Taktiek S1 Slim BB
web uni tv guide

Taktiek

144Komedie13 L

Taktiek: Vlymskerp komedie skop Maandagaand af

Nuus
02 Oktober 2023
Vind meer uit oor kykNET se splinternuwe komedie!
Taktiek

“Kom ons rol.”

“Kort op jou hakke.”

Só begin die eerste toneel in Taktiek – kykNET se splinternuwe komediereeks wat op 2 Oktober op DStv-kanaal 144 om 20:00 begin.

Die twee karakters, Goose (Bennie Fourie) en Willy Brown (Keeno-Lee Hector), is paraat, reg vir aksie. Daar is net een probleem: Hulle is sekuriteitsmanne op die veiligste dorp in die land, Schusterton, waar daar minder as niks aangaan nie.

Daar word egter ’n jakkals in die hoenderhok gegooi wanneer die eienaar van Taktiek, die sluwe Jorrie (Deon Lotz), in hegtenis geneem word vir ’n rits misdade. Jorrie se eksvrou met ’n onbetaamlike liefde vir geld, Karen (Marion Holm), kom sak en pak daar aan en dreig om Taktiek te sluit. Dít gaan sy egter nie so vinnig regkry nie, want die manne en vroue van Taktiek sal alles doen om die deure oop te hou. “Hoe is julle so arm en so positief?” vra Karen op ’n kol.

In die span by Taktiek is die tweeling Attie (Schalk Bezuidenhout) en Mignon (Mandri Sutherland). Attie doen IT, maar het drome om deel van die aksie saam met Goose en die manne te wees. Mignon is verantwoordelik vir die antwoord van oproepe en die deurgee van inligting. As sy dit net vinniger kon doen ...

James Borthwick is te sien as Venter, ’n knorrige oorlogsveteraan wat al lankal moes aftree, maar as sekuriteitswag werk om die pot aan die kook te hou, en Melissa de Vries is Bronwyn, Willy Brown se aan-af meisie met die skerp tong wat by die plaaslike kroeg werk.

Dinge word verder omvergegooi wanneer Jorrie en Karen se dogter Lisa (Leché Joubert) deur haar miljoenêr-verloofde by Taktiek afgelaai word, want vir dié spul sien hy nie kans nie. Lisa vind dan uit dat Taktiek in haar naam geregistreer is, en só begin die balle rol en hou Taktiek hulle deure oop.

Die span agter Taktiek is dieselfde groot kreatiewe geeste wat vir die veelbekroonde Hotel verantwoordelik was.

Ander spelers wat in gasrolle te sien is, sluit in Ludwig Binge as Arend, Lise se skatryk verloofde, Donnalee Roberts, Leandie du Randt, Devonecia Swartz, Antoinette Kellermann en André Weideman.

Net ’n klein waarskuwing ter wille van jou kyktydbestuur: Jy gaan die episodes weer en weer wil kyk, want dit is so vinnig en so skerp dat jy sommige van die dialoog, gesigsuitdrukkings en aksies mag misloop.

Taktiek begin op Maandag 2 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.