Logo

Sy Klink Soos Lente bring ’n vars briesie

Nuus
21 Junie 2016
Die fliek Sy Klink Soos Lente, met onder andere Stiaan Smith en Amalia Uys, tref die silwerdoek op 30 September 2016.
SKSL Stiaan Amalia

Stiaan Smith en Amalia Uys


Bouwer Bosch Films in samewerking met kykNET en King Price bied aan: Sy Klink Soos Lente

Wat sou jy doen as jy die meisie van jou drome ontmoet, en weet jy’s nie goed genoeg vir haar nie? Jy jok, natuurlik...

Ben (Stiaan Smith), ’n selfvoldane werktuigkundige ontmoet vir Linda (Amalia Uys), ’n beeldskone, nie-op-die-mond-geval-ouditeur een aand in ’n kroeg. Hulle gesels en daar is dadelik vonke, maar toe Linda vir Ben vra wat hy doen vir ’n lewe, jok hy en sê dat hy die hoofsanger in ’n band is. Want nie net is Linda uit sy liga nie, haar pa is sy baas.

Kyk die lokprent hier:



Linda hou dadelik van die sjarmante “muso”, hulle val vir mekaar, en Ben moet ’n band begin om sy leuen te verbloem en die meisie van sy drome se hart te wen.

Sy Klink Soos Lente is ’n opwindende vertrek en vernuwing van die Afrikaanse romantiese komedie genre. Corne van Rooyen se sensitiewe regie en Stiaan Smith se vars teks skep ’n wonderlike palet vir die beeldskone Amalia Uys en Smith se aangrypende karaktervertolkings.

Die bekroonde THE FILM FACTORY en opspraakwekkende BOUWER BOSCH FILMS bied aan ’n storie oor onverwagse vriendskappe, om jou passies te herontdek, en om uit te vind wat dit beteken om goed genoeg te wees.

Vervaardigers: Bouwer Bosch, Danie Bester, Rachelle Crous, Stiaan Smith en Tina Kruger
Regisseur: Corne van Rooyen
Met o.a.: Amalia Uys, Stiaan Smith, Bennie Fourie, Wilson Dunster, James Cunningham, Darren Kelfkens, Bouwer Bosch en Tina Kruger
Datum: 30 September 2016

34 sksl 01

34 sksl 02

34 sksl 03

34 sksl 4

34 sksl 5

34 sksl 6



Musiekvideo: “Sy Klink Soos Lente”

Die liedjie “Sy Klink Soos Lente” is deur Bouwer Bosch, Dawie de Jager en Roan van As geskryf. Die doel was om ’n liedjie te skryf wat Ben in die fliek vir Linda skryf. Bouwer het aanvanklik ’n ander liedjie geskryf as die eerste pitch vir die titelsnit, maar het toe besef hy gebruik die verkeerde aanslag vir die storie. Die koor van die oorspronklike liedjie het egter behoue gebly en Dawie en Roan het die res van die poësie in die verse van “Sy Klink Soos Lente” geskryf.

“Dit was ’n ongelooflike manier om ’n liedjie te skryf omdat ons mekaar vertrou en almal die belange van die film eerste wou stel. Die liedjie is opgeneem en ons gaan die video vrystel, maar ek en Roan het nog nie eers ontmoet nie. Dit is hoe liedjieskryf deesdae werk, wonderlike idees wat gedeel en elektronies verbeter word. Dit was ’n eer om saam met Dawie en Roan te kon skryf,” sê Bouwer.

34 sksl bouwer bosch musiek


Die video is deur Werner Botha verfilm en WJ van den Heever en Bouwer Bosch het die regie daarvan op 12 Julie 2016 in ’n leë woonstel in Randburg behartig. Bouwer wou op iets treffend en eenvoudig fokus en het gevolglik besluit om ’n hele vertrek in die woonstel met plakkate vir die fliek te bedek omdat die ontwerp van die plakkate maklik op die oog is, die liedjie maklik op die oor is en die minder-is-meer benadering altyd doeltreffend is.

Bouwer sê: “Ek dink luisteraars gaan die liedjie nie uit hulle koppe kan kry nie. Sy Klink Soos Lente is ’n great fliek en daarom het ons nóg beeldmateriaal uit die film vir die video gebruik wat nie in die lokprent is nie. Dus gee ons geleidelik meer weg soos ons nader aan die uitreiking van die film kom. Ek dink almal sal aanklank vind by die mooi storie wat in die verse van die liedjie vertel word.”

Kyk die musiekvideo hier:



Hou dié blad dop vir al die nuus oor kykNET Films.