Logo

Storiefilms terug op kykNET vanaf April

Nuus
30 Maart 2022
Kykers kan vanaf April na kykNET Storiefilms elke Saterdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsien. Van die Storiefilms sal wel nog op fliekNET (DStv-kanaal 149) uitgesaai word.
Storiefilm presser BB

Die kykNET Storiefilm-projek is aan die einde van 2019 geloods met die doel om die fliekaanbod op die kanaal uit te brei en om werksgeleenthede in die plaaslike filmindustrie tydens die Covid-19 pandemie te skep. Die inhoud was gewild by kykers en het daartoe gelei dat die projek uitgebrei het om nie net nuwe werksgeleenthede te skep nie, maar om ook nuwe stemme in die film- en TV-industrie te identifiseer.

Hier is die kykNET Storiefilms wat in April wys:

Ken jy my nou
Saterdag 2 April 20:00
Regisseur: Francois Nolte
Met Leandie du Randt, Gavin van den Berg en Tiaan Kelderman

Ashley, die vervaardiger van ‘n tweede-rangse televisiereeks Hartkwale, ry op pad werk toe ‘n hawelose man, Anton, om. Om gevolge te vermy, neem sy hom onder haar vlerk en bied vir hom ‘n klein rolletjie aan. Anton het egter ‘n verrassende verlede wat ‘n impak gaan hê op Ashley en die Hartkwale-span se lewens.

Sak & Pak
Saterdag 9 April 20:00
Regisseur: Johannes Pieter Nel
Met Marco Spaumer en Je-ani Swiegelaar

‘n Groep vriende is op pad na ‘n lang verwagte vakansie. Die vensters is op knip, die cooler-boks is gereed en die geselskap is vuurwarm. Ongelukkig het Betsie, ‘n broodblik van ‘n kombi, ander planne. Wanneer Jan-tuisbly se karretjie wink vind hulle gou uit dat Betsie nie die enigste een is met ‘n kwaal nie.

Elsa en Magriet op skou
Saterdag 16 April 20:00
Regisseur: André Velts
Met Rina Nienaber en Woutrine Theron

Susters Elsa en Magriet kan mekaar nie verdra nie. Hulle sit die huis (waarin hulle saamwoon) op die mark – permanent – om die geselskap van nuwe mense te geniet. Maar dinge ruk handuit wanneer Barney, die eiendomsagent “verdwyn”…

Dolla
Saterdag 23 April 20:00                                
Regisseur: Ingrid Paulus
Met Robyn Rossouw en Hildegardt Whites

Dolla se grootste droom is om ‘n skoonheidskoningin te wees. Wanneer sy uitvind sy is ‘n finalis in ‘n skoonheidskompetisie gaan haar ma, Mel, uit haar pad uit om haar dogter te help wen. Mel se vriendin, Ma’Thembi, spring ook in en moet uiteindelik Mel se skoene probeer volstaan wanneer haar gesondheid begin agteruitgaan.

 ‘n Snuf in die neus
Saterdag 30 April 20:00
Regisseur: JC Snooke
Met Ryno Hatting, Jurgen Hellberg, Isabella Mostert, Matie van Graan en Pascial Wakefield

'n Afgetrede speurder en sy sidekick beste vriend is by hulle ouetehuis bekend daarvoor dat hulle altyd op die uitkyk vir klaarblykende onbenullige raaisels is. Wanneer die speurder uitvind dat hy terminaal siek is, draai die klok een laaste keer teen hulle om hulle finale saak op te los.

Skakel elke Saterdag om 20:00 in vir 'n splinternuwe kykNET Storiefilm, net op kykNET (DStv-kanaal 144).