Logo

Storiefilms om te bekoor hierdie Julie op kykNET te sien

Nuus
30 Junie 2023
Vyf gewilde Storiefilms word weer in Julie uitgesaai. Storiefilms is op Saterdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en spog met van die beste talent voor én agter die kamera.
New Storiefilms Image

Hier is die storiefilms waarna jy hierdie Julie kan uitsien:

Herleef

1 Julie om 20:00

Wanneer Victor noodgedwonge by ‘n eienaardige spa begin werk, ontdek hy onverwags dat nuwe maniere om die lewe te onthou en aan te pak, groter risiko’s inhou as wat hy ooit kon dink. Met Righard van Jaarsveld en Augusta Zietsman.

Regisseur: André Velts.

Beïnvloedbaar

8 Julie om 20:00

Vyf sosiale media influencers kom onder een dak bymekaar om te sien wie met R2 miljoen se prysgeld kan wegstap. Met Armand Aucamp, Danielle Retief, Francois Chapman, Leandra Booyens, Mandi du Plooy-Baard en Neil Sharim.

Regisseur: JC Snooke.

Desember diewe

15 Julie om 20:00

’n Stoutgat 10-jarige wil vrede met die heelal maak en maak ’n groep vriende bymekaar om ryk mense se Kersgeskenke te steel en dit vir ’n kinderhuis te gee. Met Blake Pharo, Juan-Christoff Smith, Judi Hattingh en Roeline Daneel.

Regisseur: Carla Smith.  

Truspieël

22 Julie om 20:00

Wanneer ’n paartjie met dekades se herdenkings agter die rug uitvind die plek waar hulle getrou het word afgebreek, vat hulle die pad terug ter wille van herinneringe. Met Gerben Kamper, Gustav Gerdener, Monica Muller en Rika Sennett.

Regisseur: JC Snooke.

Om en om

29 Julie om 20:00

’n Bedeesde rekenmeester en ’n gedrewe produkureur gaan een Vrydagaand op ’n gedwonge avontuur en besef dis verbasend lekker om soms impulsief te wees. Met Evan Hengst, Ilse-Lee van Niekerk, Albert Maritz, Cintaine Schutte en Greg Kriek.

Regisseur: Willem Grobler.

kykNET Storiefilms is Saterdae 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).