Logo
Elders Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Elders

144ReisprogramPG

Stapper word drawwer vir bewusmaking van depressie – Elders: Namibië

Nuus
18 Oktober 2021
"Ek stap self al 'n lang pad met depressie en dit is 'n siekte wat dikwels verswyg word."
Erns draf vir depressie – Elders

Ons ken hom as aanbieder van die kykNET-reeks Elders en as ywerige stapper, maar deesdae trek Erns Grundling ook gereed drafskoene aan. Hy gaan hierdie Sondagoggend sy eerste marathon (42.2 km) doen wanneer hy aantree vir die Kaapstad Marathon. 

"Ek het in my lewe nog nooit meer as 30 km op een slag gedraf nie," vertel Erns, "maar ek oefen die afgelope ses maande hard en sien uit na die groot uitdaging. Van wat ek verstaan raak 'n marathon baie taai so by die 32 km merk, so ek sal maar moet sien wat dan gebeur. My swaer Theo Robbertze wat al 'n paar marathons gehardloop het reken dit is ewe seer naby die einde, of jy stap óf draf. So ek gaan maar probeer aanhou draf sodat ek vinniger by die eindpunt uitkom!" 

Erns hardloop nie net om "Eerste Marathon" op sy bucket lys af te merk nie. Hy pak dit ook aan as 'n fondsinsameling vir die Ithemba Foundation. Vroeër vanjaar het prof. Lizette Rabe, sy dosent aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek en stigter van die Ithemba Foundation, vir hom genader om die fondsinsameling te doen. 

Ithemba beteken "hoop" en die doel van die stigting is om bewusmaking te skep van depressie as biologiese siekte en navorsing te befonds. 

"Ek stap self al 'n lang pad met depressie," sê Erns, "en dit is 'n siekte wat dikwels verswyg word. Die Ithemba Foundation help om die stigma af te breek, want om meer oor psgiese gesondheid te praat en die inligting oor depressie as biologiese siekte te deel kan ons almal met meer deernis na onsself en mekaar kyk. Veral in hierdie ongewone tye waar mense se psigiese gesondheid tydens die pandemie en inperkings geweldig uitgedaag word. Ek vind ook dat oefening 'n wonderlike manier is om die swart hond van depressie op 'n veilige afstand te hou. Vir my is oefening beslis terapeuties." 

Erns het 'n teikenbedrag gestel van R42 200 vir die fondsinsameling - R1000 vir elke kilometer of R1 per meter van die Kaapstad Marathon. Teen Vrydag 15 Oktober het hy reeds 61% van die teiken bereik met donasies van sowat R25 000. Die fondsinsameling is nog oop op Givengain tot einde volgende week. 

Kliek hier om 'n donasie te maak.

'n Paar dae na die Kaapstad Marathon saai die dertiende en laaste episode van Elders: Namibië uit, om 20:30 op kykNET. "Ons het soveel wonderlike terugvoer van kykers gekry die afgelope paar maande. Ek is so dankbaar dat die reeks kykers inspireer om self Namibië te besoek. Ons sluit af met 'n hoogtepunt waar ek die magtige Visriviercanyon-staptog van byna 80 km in 5 dae stap in die laaste episode," sê Erns. "Ek stap saam met my vrou Catharien en vriendin en Weg!-joernalis Sophia van Taak. Kom ons sê maar net die Vis se klippe en sand het my en Catharien se jong huwelik by tye getoets, maar ons het met glimlagte klaargemaak."

En verdere Elders-planne? "Daar is opwindende planne vir 2022," sê Erns, "maar ek moet nou eers hierdie Sondag 42.2 km in Kaapstad gaan draf."