Logo
Elders Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Elders

144ReisprogramPG

Elders verken Namibië in nuwe reeks – Elders 4: Namibië

Nuus
25 Junie 2021
Elders: Namibië begin op Woensdag 28 Julie om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.
Elders Showpage Billboard 1600x800

Vir die vierde seisoen van die SAFTA-bekroonde Elders, het Erns Grundling en die kameraspan na Namibië gereis om daar die land van hoek tot kant te deurkruis.

“Dit was by verre die mees ambisieuse produksie waarby ek nog betrokke was,” sê Erns. “Ons was 45 dae in Namibië en het in die land alleen naby aan 8 000 km in ons twee Toyota-voertuie afgelê. Ons het begin in die suide by die Oranjerivier naby die Noordoewer-grenspos en stelselmatig noord beweeg deur die NamibRand, ingeloer by Sossusvlei en Solitaite en aangestoot tot by Walvisbaai en Swakopmund. Ons was verder noord na plekke soos Brandberg en Palmwag en uiteindelik by die Epupavalle in die Kunenerivier op Angola se grens.

“Hiervandaan het ons weer al die pad suidwaarts gereis, via Etosha en Windhoek tot by die Visriviercanyon. Dit was die road trip van 'n leeftyd en het opnuut my oë oopgemaak vir Namibië se wonderlike natuurskoon en mense. Ek is super opgewonde daaroor om hierdie reis met kykers te deel en hulle hopelik te inspireer om dieselfde plekke te gaan besoek.” 

Wat is anders as met die vorige reekse?
“In die vorige seisoen, Elders: Pelgrimstog van Hoop, het ek  vir dertien episodes lank tussen Kaapstad en Kaap Agulhas gestap. Hoewel stap en staptogte altyd deel van Elders se DNA sal wees, het ons dit anders benader met Namibië. Aangesien Namibië so 'n groot en diverse land is, en verskeie fantastiese staptogte het, gooi ek 'n veel wyer draai in hierdie nuwe reeks. Ek pak steeds verskeie staptogte aan, soos die Namib100 suid van Walvisbaai en natuurlik die ikoniese Visriviercanyon-staptog. Ek pak ook 'n adrenalien-aktiwiteit of twee aan wat kykers hopelik baie vermaaklik sal vind.”

Sonder om te veel weg te gee, sê Erns dat daar wel ’n paar bekendes wat by hom aansluit.

“Daar was logistieke en pandemie-uitdagings om gaste uit Suid-Afrika in Namibië te kry, maar ek is veral opgewonde oor die wonderlike Namibiërs wat in hierdie reeks saam met my stap - of dit nou gidse, boere of ander plaaslike inwoners is. Een van die gaste wat ek buite Windhoek ontmoet het, is Simon Witbooi, natuurlik bekend as Hemelbesem. Hy het in die vorige seisoen saam met my gekuier op Genadendal en dit was fantasties om weer met hom in Namibië te kon gesels.”

Erns sê Namibië se ongelooflike natuurskoon, onvergeetlike karakters en die mense se grenslose gasvryheid was werklik besonders.

“Ek was bevoorreg om Namibië al baie te besoek, maar ek is ná hierdie afgelope reis opnuut verlief op die land en sy mense. Ek het weer eens geleer dat daar soveel welwillendheid op 'n mens wag as jy jouself die geleentheid gee om jou horisonne te verbreed en na ander mense en hulle stories te luister. Die reeks het my ook geleer hoe belangrik goeie spanwerk is en dat dit 'n reeks kan maak of breek. Om vir meer as ses weke saam met vier uiter begaafde ouens te kon reis en oor niks nonsens vas te sit nie is kosbaar, eintlik ongehoord!”

Elders word vervaardig deur Bonanza Films en ondersteun deur Toyota SA, Virseker, ClemenGold Gin en Rethink CBD.

Elders: Namibië begin op Woensdag 28 Julie om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.