Logo
Plaasjapie
web uni tv guide

Plaasjapie

144RealiteitPG13 L

Stadsjapie van Pretoria word ’n miljoenêr op kykNET

Nuus
06 Oktober 2022
Lees meer!
Dian Plaasjapie

Die kaf is van die koring in die kykNET-werklikheidsreeks Plaasjapie geskei toe Dian Louw van Pretoria as die wenner gekroon is. Dian wen ’n koel R1 miljoen, een van die grootste pryse wat nóg deur kykNET weggegee is. 

In die finale episode, het Dian (30) teen Stefan Botha (24) te staan gekom. Hulle het voor verskeie uitdagings te staan gekom wat gebaseer was op dit wat hulle tydens die verloop van die reeks geleer het. Hulle was nie heeltemal aan die genade uitgelewer nie want Dian en Stefan het elkeen die hulp van drie Plaasjapie-deelnemers wat reeds uitgestem is, gehad om hul oor die laaste paar driwwe te help.

Dian was meer suksesvol met die uitdagings wat onder meer draadspan en die aanjaag van skape ingesluit het. Só het hy bewys hy is inderdaad sy sout werd om die waardige wenner van Plaasjapie te wees. 

Dian glo sy goeie menseverhoudings en die feit dat hy net homself tydens die reeks was, het hom gehelp het om ver in die reeks te vorder. 

“Ek is maar bietjie van ’n introvert, wat beteken ek sukkel in ’n groot groep. Daarom het ek met die ander deelnemers individuele bande gesmee om só op ’n dieper vlak met elkeen te connect,” sê hy.  

“Ek het ook flippen hard gewerk en ek het alles gedoen om my plek op die plaas te verdien sodat niemand die vinger kon wys dat ek lyf wegsteek nie.

“Ook het die aantal kere wat ek kaptein moes wees, my buite my gemaksone geplaas. Ek moes leiding neem deur koelkop te bly en het my spanmaats se sterkste punte geïdentifiseer om dit tot voordeel van almal aan te wend,” verduidelik Dian.  

Plaasjapie-aanbieder Ewan Strydom beaam dat Dian se sterkste eienskap sy deursettingsvermoë is. 

“Ten spyte van hoe groot of moeilik die uitdaging is, het Dian dit altyd kalm en sistematies aangepak,” sê Ewan.

“Dian het ons almal beïndruk en hy het oor die 13 episodes bewys dat hy vir niemand hoef terug te staan nie. Hy het nie net slim te werk gegaan in hoe hy die spel aangepak het nie, maar het terselfdertyd ook sy eie vrese oorkom.”

Die R1-miljoen-prysgeld gaan vir Dian,’n kunstenaar en galery-eienaar, help om ’n kreatiewe manier vooruit te boer. 

“As ek my salaris van die afgelope twaalf jaar bymekaar tel, kom dit nie eers naastenby by die prysgeld uit nie . . . Dit is oorweldigend en ek is baie dankbaar, maar dit is terselfdertyd vir my ’n goue geleentheid om ook ander kunstenaars te help.

“Ek en my vrou, Michelle, het intussen ’n huis gekoop waar my ateljeespasie heelwat groter is, en ek kan dus meer kunstenaars help om ook hul passie uit te leef. Die prysgeld ondersteun dus my droom asook die drome van talle ander  kunstenaars. 

“En wie weet, dalk maak ek in die nabye toekoms ’n plaasgalery oop,” skerts die Plaasjapie-wenner.