Logo

Splinternuwe moeilikheid in Die Boland Moorde 2

Nuus
08 Februarie 2017
As jy reeds ’n aanhanger van Die Boland Moorde is of graag wil inhaal, kan jy gereed maak vir al die aksie en spanning deur die volledige eerste seisoen op ShowMax te kyk.

DBM ShowMax

Een van die heel gewildste Suid-Afrikaanse misdaadreekse is terug op die kassie – skuif reg vir die tweede seisoen van Die Bolande Moorde, wat volgende week op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. As jy reeds ’n aanhanger van dié reeks is of graag wil inhaal, kan jy gereed maak vir al die aksie en spanning deur die volledige eerste seisoen op ShowMax te kyk.

In die tweede seisoen vat die twee baasspeurders van die Boland Ondersoekeenheid, luitenante André Fourie en Shane Williams, weer soos wafferse bloedhonde die spoor van verskeie raaiselagtige moorde in die Wynland.

André en Shane werk natuurlik nie alleen nie. Daar’s ’n gedugte span wat hulle bystaan: Kolonel Khumalo is nou die hoof van dié eenheid, en Elise is die nuwe kantoorbestuurder wat vir André teen die mure uitdryf. Japie is steeds die slimkop IT-spesialis en Busi het oorgeneem as forensiese deskundige. Ná Dok Le Roux se aftrede het ’n nuwe patoloog by die span aangesluit – dr. Rachelle de Jager. Volgens Shane is sy “heeltemal te vrolik vir iemand wat met lyke werk”, maar sy laat André se hart warm klop.

Daar’s egter min tyd vir muisneste, want die dood klop sommer al in die eerste episode gereeld aan die deur. Wanneer dit nie die lede van ’n toneelgeselskap is wat op vreemde maniere sterf nie, is dit die donker wêreld van internet-radiostasies, kunsuitstallings en dwelms op kampus. Uiteindelik moet André in die laaste episode ook twee van sy grootste vrese in die gesig staar: vroue en kersligetes.

Die twee topspeurders word gespeel deur twee topakteurs – Stian Bam en Brendon Daniels is die luitenante. Hulle word bygestaan deur ’n eersteklas-rolverdeling met Marlo Minnaar wat terugkeer as Japie, en Tinarie van Wyk-Loots, Ebby Weyime en Nicole Holm wat almal nuwe karakters vertolk.

Elke episode is ’n stewige 90 minute lank en geskoei op die formaat van klassieke Britse whodunnits soos Lewis, Midsomer Murders en Vera – vermaak met byt vir skerp kykers wat hul misdaadstorie ken.