Logo

SMAAKMAKER-TOEKENNINGS: Nomineer jou gunsteling-Smaakmaker hier!

Nuus
04 Desember 2023
Is jy ’n Smaakmaker? Of ken jy een wat sosiale media aan die gons het? Dan is Netwerk24 se Smaakmaker-kompetisie net vir jou. Want Netwerk24, Suid-Afrika se voorste Afrikaanse inteken-nuusdiens, bied ook kos- en wyn-inhoud, mode-, gesondheids- en reiswenke, vermaak en boeke, noem maar op: daar is iets vir almal, alles op een plek.
Smaakmaker

Nou soek ons die beste Smaakmakers in Afrikaans, daardie mense wat ons smaak help vorm oor al hierdie lekkertes. Wat is ’n Smaakmaker, vra jy? Dis die lekker loslit- Afrikaanse woord wat Netwerk24 se lesers uitgedink het vir die Engelse woord influencer. Ons het nou die woord, nou soek ons die grootste sterre van die smaakmaker-wêreld. En dis in jou hande wie wen.

Hoe werk dit

Die wedstryd word aangebied deur Netwerk24 in vennootskap met die voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte in Media24, Landbou.com, kykNET en VIA. Daar is 14 kategorieë waarin jy ’n prys kan wen, en uiteindelik word ’n vyftiende prys uit dié kategorieë toegeken om Netwerk24 se algehele Smaakmaker van die Jaar te bekroon. Elke kategoriewenner kry ’n allemintige R25 000, en die algehele wenner ’n verdere R25 000 – dis ’n koel R50 000 vir die Smaakmaker van die Jaar.

Hier is die kategorieë

Mode met SARIE
TikTokker van die jaar met Huisgenoot
Komediant met kykNET
Wyn met Die Burger
Kos met VIA
Buitelewe en reis met WEG! en Weg Ry&Sleep
Landbou met Landbouweekblad en Landbou.com
Dekor en ‘DIY’ met Tuis
Inspirasie-mense met Kuier
Boeke met NB-Uitgewers
Gesondheid en welstand met Beeld
Ouerskap met Baba en Kleuter
Musiek met Son
Tuinmaak met Rapport

Skryf so in

Vul eenvoudig die aanlyn inskryfvorm in, klik hier. Inskrywings is oop van 6 November en sluit middernag op 14 Januarie 2024. Jy kan jouself inskryf, of iemand anders. Jy weet mos wie jy volg op Instagram, TikTok of Facebook? En jy kan meer as een inskryf, trouens – hoe meer hoe beter! Netwerk24 wil die beste Smaakmakers in Afrikaans identifiseer en erkenning gee. Ons is passievol oor Afrikaans, dis ons toekoms! En almal wat meedoen om die taal vlerke te gee, verdien ’n oomblik in die kollig.

Op 22 Januarie word die finaliste bekend gemaak op Netwerk24 en die sosialemediaplatforms van al die vennote, waarna lesers die kans kry om vir hul gunstelinge in elke kategorie te stem. Lesers se stemme is nie finaal nie, maar word in ag geneem wanneer die beoordelaarspaneel die uiteindelike wenners aankondig. Stemme sluit op 15 Februarie. Die gala-aand waarop die wenners aangekondig word, is 29 Februarie in Kaapstad, op Skrikkeldag!

Belangrikste bepalings en voorwaardes

Slegs Afrikaanse inhoud word beoordeel. Smaakmakers wat inhoud in Engels ook skep, kan inskryf, solank jy oorgenoeg Afrikaans inhoud het waarna lesers en die beoordelaars kan kyk. Die Smaakmaker moet die eienaar van die sosialemediablad wees – dit kan nie deur ’n agentskap besit of bestuur word nie. Slegs een sosialemediaplatform word in ag geneem – kies daarom die een wat elke Smaakmaker se primêre kommunikasiekanaal is, of dit nou Instagram, Facebook of TikTok is. Bepaalde kriteria geld vir elke kategorie, en elke Smaakmaker moet daaraan voldoen om vir die wedstryd in ag geneem te word:

Tiktokker van die Jaar, in vennootskap met Huisgenoot:

Net TikTok word in ag geneem, en die Smaakmaker moet minstens 100 000 volgelinge hê.

Boeke, in venootskap met NB-Uitgewers

TikTok - 1000 volgelinge en op.
Facebook – 500 volgelinge en op.
Instagram – 500 volgelinge en op.

Alle ander kategorieë

TikTok - 5000 volgelinge en op.
Facebook – 5000 volgelinge en op.
Instagram – 5000 volgelinge en op.

Vir jou dagboek

Inskrywings sluit: 14 Januarie
Finaliste bekend: 22 Januarie
Finaliste-stemmery: 22 Januarie - 15 Februarie
Gala toekenningsaand: 29 Februarie