Logo

Slank saam met Leandie du Randt

Nuus
27 September 2016
Kykers sal verheug wees om te hoor Leandie du Randt is in Oktober terug op die kassie as aanbieder van die nuwe werklikheidsreeks Slank. Ons gesels met haar in die jongste uitgawe van Digityd.
Die trane het geloop toe Leandie du Randt onlangs die stel van Binnelanders groet, maar kykers sal verheug wees om te hoor sy is in Oktober terug as die aanbieder van die nuwe werklikheidsreeks Slank.

Deur Bibi Slippers

Leandie du Randt is ’n Suid-Afrikaanse superster: Sy’s ’n gesogte aktrise op TV en die silwerdoek, sy het byna 82 000 aanhangers op Instagram, en die aanvraag na haar motiveringspraatjie vir vroue en jong meisies neem haar tans kruis en dwars oor die land.

Maar as jy met haar gesels, is haar dankbaarheid die eerste ding wat jou opval: Sy is dankbaar vir die liefde in haar lewe; dankbaar vir elke geleentheid, selfs wanneer dit met uitdagings kom; en diep dankbaar dat sy elke dag haar drome kan uitleef.

Op 10 Junie, die aand toe haar karakter Ivanka vir die laaste keer op Binnelanders verskyn het, kon mens weer daardie dankbaarheid sien in ’n video wat Leandie op Facebook en Instagram gedeel het. Uit die kykers se reaksie op die video is dit duidelik hoe gewild en geliefd Ivanka se karakter en Leandie as aktrise is. Heelwat mense het skoon aan die huil gegaan omdat hulle van haar moes afskeid neem.

Vir Leandie was die besluit om Binnelanders vir eers te verlaat ’n moeilike een, maar sy moes dit doen om haarself uit te daag en haar grense te toets. “Dit is scary om weer die vryskut-lewe te betree, maar ek is nou vir vier maande op toer met my motiveringspraatjie, en ek is bevoorreg om so  ’n wonderlike bestuur- en toerspan te hê wat saam met my op die pad is en alles so goed reël. Ek geniet dit verskriklik baie en leer baie van mense én van myself so weg van die huis af.”

Kykers hoef darem nie mismoedig te voel nie. Hoewel Vankies nou vir eers koers gekies het Brakpan toe, gaan Leandie darem binnekort weer terug wees op die kassie – dié slag as aanbieder van die werklikheidsprogram Slank.

Kyk hier na ’n paar agter-die-skerms-foto’s.

Slank volg die gewigsverliespad van 13 alledaagse mense van verskillende ouderdomme en agtergronde en met uiteenlopende loopbane, maar almal het een ding in gemeen: Hulle word teruggehou deur hulle gewig. Elke episode volg een deelnemer deur die hele tydperk van drie tot vyf maande, en Leandie is by om te motiveer en te inspireer.

Sy het besluit om haarself aan die program te verbind omdat sy self baie gesondheidsbewus is en ook in haar motiverinspraatjies mense aanmoedig om na hulleself en hulle gesondheid om te sien. “Ek is mal oor die formaat van die program omdat die deelnemers nie met mekaar meeding is nie. Elke epsiode gaan oor één persoon se journey en of daardie persoon hulle teikengewig bereik het, en hoe. Jy is dus net in kompetisie met jouself en jou eie standaarde en ek love dit, want ons is almal anders en kan nie met mekaar vergelyk word nie. Ons het ander persoonlikhede, lewens en lywe, so almal gaan anders gewig verloor – op ander maniere en vir ander redes. Dis die boodskap wat ek in my praatjie oordra: No one can beat you at being you. Dis wat die program ook sê: Wees die beste jy.”

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.

Slank begin op 9 Oktober 2016 op kykNET, en is Sondae om 19:30 op die kassie.