Logo

Skelmpie 2 verken verder . . .

Nuus
26 Oktober 2018
Lees meer oor die tweede seisoen van Skelmpie.
Skelmpie

Die opspraakwekkende kykNET-werklikheidsreeks Skelmpie is terug vir ’n tweede seisoen.

Skelmpie, met aanbieder Rian van Heerden, is terug in Januarie vir ’n tweede seisoen. Die eerste seisoen het gehandel oor een van die partye in ’n verhouding wat ’n dwalende oog ontwikkel en ontrou is. Kenners is ontbied vir raad aan slagoffers om aan te beweeg, met of sonder hul maat.

Kykers het behoorlik gegons op sosiale media en het op kykNET se Facebook-blad hul entoesiasme oor dié geselsprogram met ons gedeel – lees meer hier.

Nelia van Biljon het geskryf: “Ek het regtig nie uitgesien na hierdie program nie, maar moet sê ek was beïndruk. Welgedaan, Rian.”

Verder het Johan Ebersohn geskryf: “Die program word baie goed en simpatiek aangebied. Dit was toe nie so ‘kommin’ soos baie voorspel het dit gaan wees nie. Welgedaan, Rian.”

Volgens Rian word die kollig in die tweede seisoen geplaas op paartjies wat in verhoudings is wat meeste mense vreemd vind, “van liefdesdriehoeke tot jare se ouderdomsverskille, van reuse lengteverskille tot huweliksmaats wat dink hulle is Wagter.”

Verder sê Rian: “Ons het na seisoen een gevind, veral na ons prostitusie- en swingers-episode, dat mense veral geïnteresseerd is in verhoudings wat heeltemal teen die norm is.

“Ons wou hierdie gebied ’n bietjie verder verken!

“Ek sien vreeslik uit na Skelmpie: Liefde Sonder Grense! Ons het werklik na ’n baie wye verskeidenheid verhoudings gekyk en gaan natuurlik met elkeen van hierdie paartjies op stel gesels. O ja, en daar is ook ’n hele paar enkellopendes op soek na iets meer eksoties! Ek vind dit uiters interessant, ek hoop jy sal.”

Inskrywings vir die tweede seisoen is nou oop – skryf hier in, of rig ’n e-pos aan [email protected].