Logo
Groen Kongo Reenwoud Slim BB
web uni tv guide

Groen: Kongo Reënwoud

144NatuurPG

Dave Pepler verken Sentraal-Afrika in ’n nuwe seisoen van Groen – Groen: Kongo Reënwoud

Nuus
22 September 2022
Verfilm in die hart van Afrika, Groen: Kongo Reënwoud gaan die wondere wat in die Kongo-reënwoud verskuil is, wys.
Groen: Kongo Reënwoud

Wat presies is ’n reënwoud?

Dís die vraag wat die legendariese natuurkundige Dave Pepler ondersoek in Groen: Kongo Reënwoud wat vanaf Woensdag 5 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) afskop. 

Groen: Kongo Reënwoud is verfilm in die hart van Afrika en bekyk dié wêreld nie net uit die lug nie, maar ook in fyn detail – te voet. In sy 13-episode-reis verken Dave Kongo, in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, en kyk na wat presies ’n reënwoud is, die rol wat dié bedreigde gebiede in die welstand van ons planeet speel en na etlike ander interessante kenmerke.

Die span van vyf was vir ’n maand lank in die Sentraal-Afrikaanse Republiek waar hulle hierdie nuwe seisoen in die Dzanga-Ndoki Nasionale Park verfilm het. Dié park is een van die laaste veilige hawes vir ’n verskeidenheid besonderse spesies: woud-olifante, bongo’s en een van die mees bedreigde diere op die planeet – die ietermagog.

Net om daar te kom, was ’n enorme logistieke uitdaging: Ná 24 uur in vlugte wat oor vier lande gestrek het, en 19 ure in motorvoertuie op van die mees onbegaanbare paaie op die kontinent, het die span uiteindelik die kamp gehaal – ietwat broos, maar in een stuk en oorgehaal vir aksie en avontuur.

“In my lewe het ek nog nooit so ’n fabelagtige plek besoek nie,” sê die aanbieder, Dave Pepler. 

“Gemeet aan die heelal is ons aarde ’n spikkel, maar hierdie spikkel is ondenkbaar kompleks en binne dié spikkel is daar die longe van die aarde: die reënwoude. Tot my my dood sal ek veg vir die behoud van hierdie plekke en my wapen sal woorde wees.”

Dave loop te voet deur die Kongo-reënwoud en ontdek die wondere daarin verskuil, van ekosisteme in bome tot rooi miere wat op termiete prooi.

Die Ba’Aka-mense van die Kongo is tradisionele jagter-versamelaars, wat nie net van die reënwoud leef nie, maar ook in harmonie daarmee. Tydens sy eerste besoek word Dave verwelkom in ’n klein nedersetting en word dan genooi om ’n tradisionele jagtog mee te maak.

Groen: Kongo Reënwoud begin Woensdag 5 Oktober om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).