Logo

Sink ’n loopbaanhoogtepunt vir Jacques

Nuus
08 Maart 2016
Jacques Bessenger vertolk die rol van Chris in die fliek Sink. Hy gesels oor wat dié rol vir hom aanloklik gemaak het.
Jacques Sink

Jacques Bessenger vertolk die rol van Chris in die fliek Sink. Hy gesels oor wat dié rol vir hom aanloklik gemaak het.

LEES OOK: Shoki delf in emosionele terrein vir Sink.

Lees meer oor Sink en kyk die lokprent hier.

Waarom het jy die projek onweerstaanbaar gevind?

Ek wou nog altyd saam met Anel Alexander werk, en die feit dat sy een van die vervaardigers en hoofspelers was, het dit aanlokliker gemaak. Die inhoud en die briljante draaiboek het die saak vir my beklink.

Hoe het jy vir jou rol voorberei?

Ek het Brett (Michael Innes – regisseur en draaiboek) se roman gelees en ontleed omdat dit ’n uitvoerige beskrywing gegee het van die karakter en die wêreld waarin hy homself bevind. Hierna het ek die draaiboek gepak en baie tyd saam met Brett spandeer om die verskillende idees en konsepte rakende die karakter en sy emosionele reis te bespreek. Omdat die draaiboek so goed geskryf is en duidelik aandui waarheen elke karakter op pad is, was dit belangrik om elke nuanse te verstaan en te weet wanneer die groot oorgange plaasvind.

Hoe was dit om saam met Brett Michael Innes te werk?

Brett het heelwat tyd aan my afgestaan om te verduidelik waar die storie vandaan kom en hoe hy die karakters geskep het. Hy het ’n baie besliste en duidelike idee gehad van die rigting waarmee ek met die karakter moes gaan. Hy was ook oop vir my insette, maar ek het presies geweet wat hy wil hê.

Sy styl as regisseur bied geborgenheid aan die akteurs. Hy skep ’n atmosfeer van kreatiewe vryheid met baie besliste riglyne. Hy kan by tye baie presies wees – hy verwag ’n bepaalde emosie, maar net ’n sekere hoeveelheid daarvan. Hy is totaal en al gefokus op realistiese en subtiele oomblikke, waarvan ek baie gehou het. Dit was uitdagend sowel as bevredigend om saam met hom te werk. Hy het hope talent en visie – ’n great mind. Dit was wonderlik om deel van sy debuut as regisseur te kon wees.

Hoe was dit om saam met Anel Alexander te werk?

Ek het Anel nog altyd as ’n vervaardiger en ’n aktrise geweldig gerespekteer. En ek het selfs nog meer respek vir haar gekry toe ek haar op die stel van Sink in albei kapasiteite in aksie gesien het. Sy lewer kragtige werk as ’n vervaardiger en behandel haar filmspan en akteurs met absolute professionaliteit en sorgsaamheid.

As aktrise is sy nie bang om dapper keuses te maak nie en sy dwing die ander akteurs om op hulle tone te bly en hulle beste te lewer – waaroor ek baie dankbaar is. Die karakters het baie emosionele aandag en fokus geverg, ’n proses wat wonderlik was om met Anel te deel. Dit was regtig maklik om saam met haar te werk. Ek het ’n natuurlike en organiese verbintenis met haar en die karakter wat sy geskep het.

34 sink jacques anel


Hoe was dit om saam met Shoki Mokgapa te werk?

Lees meer oor hoe Shoki vir haar rol voorberei het.

Shoki het my vanuit die staanspoor in haar karakter se wêreld ingetrek. Dit was maklik om op die rou en sensitiewe werk wat sy gelewer het te reageer en dit het my baie met my werk en die keuses wat ek moes maak, gehelp. Sy het my ook op my tone gehou en my sodoende gedwing om my fokus en konsentrasie te behou. Dit was heerlik om saam met haar te werk en sy was regdeur die verfilming dapper, gaaf en sorgsaam.

Hoe was dit om saam met Amalia Uys te werk?

Ek was baie opgewonde toe ek hoor dat Amalia in die rolprent speel. Ons het ’n natuurlike konneksie, wat dit altyd baie maklik maak om saam met haar te werk. Die grootste uitdaging was om nie tydens skote te lag nie – sy is baie snaaks en boonop het ons dieselfde humorsin. Maar wanneer dit by werk kom, kon ons gelukkig die wa deur die drif trek. Sy was altyd beskikbaar en sy is vrygewig met haar werk.

Noem ’n onvergeetlike oomblik op stel.

Sink is beslis ’n loopbaanhoogtepunt vir my. Dit is die tipe werk wat ek nog altyd wou doen en ek hoop daar gaan nog meer wees. ’n Oomblik wat vir my uitstaan, was toe ons die lang, eenmalige skote aan die einde van die rolprent geskiet het. Elke skoot was tot op die kleinste besonderhede beplan en gechoreografeer. Almal op stel moes behoorlik fokus om alles in een skoot af te handel en dit het perfek in die prent gewerk.

34 sink jacques brett


Waarom moet gehore na Sink gaan kyk?

Dit is ’n intelligente rolprent – ’n prent wat met groot sorg vervaardig is en geweldige kinematiese waarde het. Die gehoor word nie met ’n lepel gevoer nie, maar word ruimte gegun vir individuele gevoelens en denke ten opsigte van die interpretasie van die prent. Die inhoud en temas is relevant en belangrik en word op ’n slim narratiewe wyse oorgedra.

Sink begin op 18 Maart in teaters draai.

Vir die jongste nuus oor kykNET-flieks, klik hier.