Logo

Sink maak nuus oor spesiale vertonings bekend

Nuus
14 Maart 2016
Die vervaardigers van Sink het aangekondig dat spesiale vertonings ter ondersteuning van die internasionale noodlenigingsorganisasie Joint Aid Organisation (JAM) gehou gaan word.
Sink Special Screening

Jacques Bessenger en Anel Alexander in ’n toneel uit Sink.


Die vervaardigers van die nuwe Afrikaanse fliek Sink het aangekondig dat spesiale vertonings ter ondersteuning van die internasionale noodlenigingsorganisasie Joint Aid Organisation (JAM) gehou gaan word. ’n Gedeelte van die prys van elke kaartjie sal aan die organisasie geskenk word.

Kyk hier na ’n video van Sink se Johannesburgse première.

JAM is ’n humanitêre noodlenigings- en ontwikkelingsorganisasie wat in Afrika werksaam is en in 1984 deur Peter en Ann Pretorius gestig is nadat Peter in Pambarra, Mosambiek, by ’n voedselverspreidingspunt gestrand was. Hier het hy die verskriklike gevolge van hongersnood gesien en hoe kinders daagliks as gevolg daarvan sterf.

Kyk hier na foto’s van Sink se première.

JAM het sedertdien ontelbare maaltye aan kinders voorsien, landbouprojekte ontwikkel, veilige drinkwater voorsien, asook fabrieke, skole en klinieke gebou.

Met die hulp en ondersteuning van borge en vennote voed JAM meer as ’n miljoen kinders en het hulle programme in Suid-Afrika, Angola, Rwanda, Mosambiek en Suid-Soedan van stapel gestuur en help hulle mense op ’n ten volle inklusiewe manier, sonder enige diskriminasie ten opsigte van ras, godsdiens, geslag of politieke oortuiging.

Kyk die lokprent hier onder:



“Dit is vir ons ’n groot voorreg om hierdie verdienstelike organisasie te ondersteun,” sê Brett Michael Innes, die draaiboekskrywer en regisseur van Sink. “JAM doen ongelooflike goeie werk binne en buite Suid-Afrika se grense en ons is geëerd om betrokke te kan raak by die merkwaardige mense wat die organisasie bestuur.”

Sink is op Innes se roman, Rachel Weeping, gebaseer en vertel die storie van Rachel, ’n Mosambiekse huiswerker wat in Johannesburg woon en verplig word om ’n lewensveranderende besluit te neem nadat haar dogter tragies sterf terwyl Rachel se werkgewers na haar kyk. Sake raak selfs meer gekompliseerd toe sy uitvind dat haar werkgewers hulle eerste kind verwag; iets wat hulle al drie dwing om saam te leef met die tragiese ongeluk wat hulle lewens onherroeplik aan mekaar verbind het.

Lees meer oor Sink hier.

Die hoofrolle in Sink word vertolk deur Anel Alexander (Faan se Trein, Semi-Soet, Discreet), Shoki Mokgapa (The First Grader, Judge Dredd, Long Walk to Freedom), Jacques Bessenger (Ballade vir ’n Enkeling, Wolwedans in die Skemer, Verraaiers), Amalia Uys (Double Echo, Sy Klink Soos Lente) en die sesjarige Asante Mabuza (The Last Face). Die akteurs Vuyelwa Booi, Diaan Lawrenson, Sandra Vaughn, Corine du Toit, Hanli Rolfes, Leandie du Randt, Siyabonga Radebe, Mandi Baard, Sarahann Doherty du Plooy, Vera Ephraim en Kabomo Vilakazi is ook in die fliek te sien.

Besprekings kan nou gemaak word en die publiek kan kaartjies bespreek vir spesiale vertonings van die rolprent op 17 Maart by die volgende teaters:

STER-KINEKOR Cinema Nouveau Brooklyn (Pretoria), Cinema Nouveau Rosebank (Johannesburg), Tygervallei (Kaapstad), Eastgate (Oos-Rand) en The Grove (Pretoria). Bespreek hier.

NU METRO – Woodlands (Pretoria), Walmer (Port Elizabeth), Canal Walk (Kaapstad), Menlyn Park (Pretoria) en Loch Logan (Bloemfontein). Bespreek hier.

Jy staan ook ’n kans om opwindende pryse los te slaan!

Besoek JAM se webwerf of stuur e-pos na [email protected]

34 sink poster