Logo
Siende Blind 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Siende Blind

144Drama16 VL

Siende Blind bring spanningsvolle familiedrama geset in lockdown

Nuus
03 November 2020
Die nuwe kykNET-drama, Siende Blind, wat handel oor ’n profielsamesteller van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat die grendeltyd saam met haar man, haar seun en haar skoonma bestee, begin Dinsdag 24 November om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.
Siende Blind

Kort voor lank bevind sy haarself op ’n paadjie wat kronkel soos sy ou sake herbesoek en ontdek dat daar ’n reeksmoordenaar veel nader aan haar is as wat sy ooit sou kon dink. 

Die storie van Lena Schoeman, wat vertolk word deur Liezl de Kock, speel af teen die agtergrond van haar man en skoonma se familie en hul verlede. Haar skoonma, Marinette, wat vertolk word deur Hanli Rolfes, se oorbeskermende gedrag by die huis verseël ’n donker geheim. Lena se man, Roelof, vertolk deur Pietie Beyers, is veel jonger as wat sy is en trek boonop saam met sy paranoïese seun, Henry, by sy ouerhuis in tydens die lockdown

Soos die dae verloop en Lena al hoe meer agterdogtig raak vir haar skoonfamilie, bereik die spanning tussen almal ’n gevaarlike kookpunt.

“My karakter, Marinette, se seun en sy familie kom by haar oorbly vir die grendeltyd. Dit soos ’n heerlike familie-hereniging, maar alles is mos nie altyd soos dit lyk nie. Persoonlike verhoudings word onder spanning gesit en geraamtes val uit die kas. Dalk meer as mens sou dink moontlik is,” vertel Hanli Rolfes.

Siende Blind is een van eerste dramas wat tussen die grendeltydperk verfilm is met al die nodige en vereiste veiligheidsmaatreëls. Hierdie kort en vinnige dramareeks bestaan uit slegs vyf akteurs in die rolverdeling en sal oor vier episodes die boeiende familiedrama van die Schoeman’s volg.

“Dit was eerlikwaar een van die heerlikste verfilmingsprosesse in my hele beroep as aktrise. Omdat ons so ’n klein rolverdeling was, het ons werklik soos familie geword en ons ten volle in die teks verdiep. Ek glo gehore sal vasgenael wees, maar mense moet vinnig in spring want as jy een episode mis, mag jy dalk net verlore wees oor wie aan wat skuldig is,” sluit sy af. 

Die karakter van die jonge Henry word vertolk deur die nuweling, Christopher van der Westhuizen, en Lena se aanlyn kollega wat haar help om sin te maak van al die moorde, Ricky, word vertolk deur Keenan Arrison. 

Die teks is geskryf deur Tertius Kapp (Dis ek, Ann, Die Spreeus) en die regisseur van die reeks was Morné du Toit (Vuil Wasgoed, Nul is nie Niks nie)

“In Siende Blind word ’n huishouding tot op sy fondament geskud wanneer Lena onder lockdown kaste vol geraamtes in haar skoonfamilie se huis ontdek,” voeg Kapp by.

Siende Blind begin Dinsdag 24 November om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.