Logo

Boeiende familiedrama maak Storiefilm-debuut – Tweede skoot

Nuus
02 November 2023
"Tweede skoot", die kykNET-Storiefilm wat Saterdagaand 4 November om 20:00 debuteer, is ’n familiedrama in murg en been.
Tweede skoot article image storiefilms

Die Lawrence-gesin se wêreld word geruk wanneer pa George en ma Alice in ’n motorongeluk is op pad terug van hulle prokureurs wat hulle egskeiding afgehandel het. Dit veroorsaak familietwis en verdere drama wanneer ’n persoon aan geheueverlies ly. 

Dit word Lucretia, die oudste dogter, se missie om ’n geheim van haar ma weg te hou en só vir haar enige hartseer te spaar. Die geheim moet stil gehou word, maar is dit nie dalk hierdie geheim wat die bande weer gaan versterk en versoening gaan bring nie? 

In die rolverdeling is André Samuels, Vinette Ebrahim, Sanchia Davids, Solomon Cupido, Donovan Pietersen, Lindsey Abrahams, Roderick Jaftha, Esemralda Bihl, Elijah Davids en Jürgen Hellberg. 

Die regisseur en draaiboekskrywer is Christo Davids. 

“Ek het nog altyd gewonder hoe die lewe sal lyk as mens ’n tweede skoot kry – veral as dit by families kom,” sê Christo. “My familie het self ’n tweede skoot gekry ná my grootouers se dood so ek het persoonlike ondervinding van tweede kanse.” 

Hy sê hy het die draaiboek geskryf met die spelers in gedagte. “Dis baie weinig dat dit gebeur, maar ek moet bieg, dit het die proses ietwat ligter gemaak.”

Wat hoop hy kry kykers uit die Storiefilm? 

“Dis ’n familieverhaal,” sê Christo. “Ek is seker dat baie van die kykers met die waardes, die stryd en die liefde sal kan identifiseer.”